’n Vreedsame optog deur inwoners en belanghebbendes wat hul misnoeë uitspreek oor die voorsitter van die DBV in Bethlehem se skorsing het die naweek plaasgevind.
Belanghebbendes uit verskeie oorde het op Saterdag 9 November na die DBV in Bethlehem opgeruk om teenkanting rakende die skorsing van Corlene van der Merwe, voorsitter, uit te spreek.
Van der Merwe, wat sedert 2010 by die Bethlehemse DBV betrokke is, het op 29 Oktober ’n brief van die nasionale liggaam, die NDBV, ontvang met die kennisgewing dat sy geskors word.
Volgens Van der Merwe, wat die afgelope vier jaar reeds as voorsitter dien, is sy geskors omdat die Bethlehem-tak nie ’n perd op die NDBV se aanbeveling van kant wou maak nie.
“Die perd is deur ’n plaaslike veearts behandel, het goed aangesterk en is gesond. Wat sou die rede wees om ’n dier wat gered kon word, van kant te maa?” wil Van der Merwe weet.
Nadat VrystaatKroon op 31 Oktober ’n navraag aan die NDBV gerig het, is terugvoering van die nasionale liggaam op 6 November ontvang.
“Die idee dat dit die NDBV teen die Bethlehem DBV is, is ongegrond,” sê Jacques Peacock, woordvoerder van die NDBV.
“Ons het ’n statutêre verpligting om die Wet op DBV’s, en die reëls wat daarvolgens gemaak word, af te dwing.
“Verder bestaan die NDBV se raad van direkteure, wat besluite neem ingevolge Artikel 11 van die Wet, ook uit verteenwoordigers van individuele DBV’s en streeks- of provinsiale verteenwoordigers wat deur die DBV’s tydens die jaarlikse algemene vergaderings ingestem is.
“Hierdie besluit word dus nie geneem deur ’n paar individue wat ’n ‘vendetta’ het nie – dit is bereik deur verteenwoordigers van binne die DBV-beweging wat elkeen die geleentheid het om onafhanklik, regverdig en sonder invloed te oorweeg en te stem.”
Van der Merwe het intussen regsadvies bekom en gaan die NDBV voor die hof daag om dit wat volgens haar ’n onregmatige beslissing is, tersyde te stel.
“Ek het nog altyd in die belang van die diere opgetree. Hulle is immers die DBV se voorkeursaak,” sê Van der Merwe.
“Omdat daar ’n geskil tussen die plaaslike DBV en die NDBV is oor hoe daar na die diere omgesien moet word, is ek geskors,” meen sy.
Die NDBV het bygevoeg dat Van der Merwe sedert 2017, tot 2024, onderskeidelik as voorsitter en ondervoorsitter gedien het – en dat, in dié tydperk tien 30 dae-briewe vir oortredings rakende die DBV-wetgewing uitgereik is.
Van der Merwe sê dat die Bethlehem DBV kort-kort briewe vir geringe oortredings ontvang en dat die Bethlehemse DBV die bevindings teengestaan het.
“Tot op datum is geen terugvoering oor die teenkanting vanaf die NDBV ontvang nie. Ses van die 30-dae briewe het gehandel oor die bewoording in finansiële state, waaroor ons nie beheer het nie.”
Raadslid Willie Theunissen van die DA in Bethlehem sê dat die onlangse ingryping deur die NDBV by die plaaslike DBV, wat die verwydering van Van der Merwe uit haar leierskapposisie insluit, is kommerwekkend.
“Hierdie optrede het ernstige kommer gewek, aangesien die NDBV aangedui het dat hulle óf volle beheer oor die plaaslike tak kan oorneem óf, in die ergste geval, die gerief heeltemal kan sluit – ’n uitkoms wat tragies sou lei tot die genadedood van die diere in die organisasie se sorg.”
VrystaatKroon het verneem dat die minister van landbou, John Steenhuisen oor die voorval ingelig is en ondersoek gaan instel.
Intussen het Verné Burger, ’n inwoner van Clarens en diereaktivis, ’n petisie geskep wat ’n beroep op Steenhuisen doen om die NDBV dringend te ondersoek.
Isoldé Laesecke, onafhanlike raadslid van die Dihlabeng-munisipaliteit het haar dank aan die Bethlehem- en Clarens-gemeenskap uitgespreek wat standpunt ingeneem het deur aan die naweek se optog deel te neem.