Die feestyd is op hande en die owerhede maan sakeondernemings en die inwoners van dorpe om veral nou paraat te wees.
“Ons raai sakeondernemings aan om, indien moontlik, veiligheidsmaatreëls op te skerp, soos om ekstra sekuriteitswagte in te span of alarmstelsels en kamerastelsels te laat aanbring,” sê AO Mmako Mophiring, polisiewoordvoerder in die Thabo Mofutsanyana-distrik.
Dit kom ná twee gewapende rooftogte in Bethlehem.
Woensdag (16/11) omstreeks 11:30 is ’n bekende sportwinkel in ’n inkopiesentrum in die dorp van selfone en sporttoerusting beroof.
Die volgende dag is ’n winkel in die Môrelig-woonbuurt deur vier gewapende mans beroof. Twee mans het voorgegee hulle soek na spesifieke produkte. Toe daar nie meer klante in die winkel was nie, het hulle die eienaar met ’n vuurwapen gedreig en op kontant en selfone aangedring. Nog twee mans het hulle by die gewapende rowers aangesluit en die eienaar en familielede wat daar werk op die grond gedwing en beroof.
“Almal is ongedeerd; die rowers is steeds op vrye voet.”
In albei voorvalle is ’n saak van gewapende roof geopen. Enigeen met inligting oor die voorvalle word versoek om die polisie by die Crime Stop-nommer, 08600-10111, te kontak, of die Bethlehem-polisiekantoor by 058-307-5700.
Die owerhede rig ’n dringende versoek aan die gemeenskap om op hul hoede te wees en om verdagte omstandighede en mense by hul naaste polisiekantoor aan te meld.