Terwyl verskeie Bethlehemiete die toename in misdaad in dié dorp al aan eie lyf gevoel het, het die opskrif “Straatrowers voer skrikbewind in Bethlehem-sakekern” op Netwerk 24 verlede week die omvang van die vlaag verwoord.
Benewens die dilemma van verskeie ondernemings wat onder gewapende rooftogte deurloop, is die grypdiewe deesdae meer bedrywig.
Mense word veral by ondernemings en banke naby die kerkplein in die sakekern beroof. In een voorval is iemand met ’n vuurwapen by ’n verkeerslig gedreig en beroof – dit boonop helder oordag.
Dit wil voorkom asof meer as een skurk op ’n slag saamwerk. Terwyl een die slagoffer se aandag aftrek, slaan die tweede byvoorbeeld toe deur die motor se passasiersdeur oop te ruk om artikels te buit.
Die polisie sê daar is daagliks sulke straatrooftogte, maar die voorvalle word nie altyd aangemeld nie. Mense word aangemoedig om hul besittings veilig te hou en om voorvalle by die owerhede aan te meld.
Die publiek kan tereg wonder of die polisiediens in reaksie op die situasie sigbaarheid by misdaadbrandpunte sal opskerp. Terselfdertyd is dit elkeen se verantwoordelikheid om paraat te wees, omdat net dié soort samewerking onder inwoners misdadigers se geleentheid om toe te slaan kan beperk.