Die meeste Noord-Kaapse boere het gejuig oor milde reën wat aan die einde van Desember geval het, maar sommige Karooboere het erge vee- en gewasverliese weens verspoellings, haelskade en koue beleef.
In Orania het die Wilco Agri-boerdery skade van meer as R2 miljoen gely toe jong mielies op landerye óf weggespoel óf deur die hael geslaan is. Gedeeltes van die bank op die Oranjerivier by die Oewer-oord in Orania het ook ingesak.
Volgens Paul van Niekerk, ‘n medeboer en VF Plus-raadslid in Hopetown, het veeboere in ‘n strook tussen De Aar, Britstown Vosburg, Strydenburg tot by Prieska ernstige veeverliese van altesaam 1 000 stuks vee gehad en die syfer kan styg. Hy sê hy ag dit sy plig om die boere wat skade gely het, by te staan.
Hy het ‘n veldtog van stapel gestuur om skenkings van skaap of kontant met behulp van die NG Kerk in Hopetown te in en te bestuur.
“Tot nou beloop die verliese meer as R2,8 miljoen. Daar is steeds boere wat nie in hul nat en onbegaanbare kampe kan kom om te tel hoeveel skaap dood is nie. Gelukkig is boere elders in die land besig op drie plekke om skaap bymekaar maak om te skenk. Ons sal die brandstof betaal vir die skaap om hier uit te kom. Dit projek om hulle by te staan sal maande duur,” sê Van Niekerk.
Verskeie boere het na die erge hael- en reënstorm op 28 Desember 2023 veeverliese van tussen 100 en 300 stuks vee elk verloor. Die diere is vrek weens die hael wat neergesak het, of het in modder vasgesit en van ontbering omgekom, terwyl ‘n ander boer se vee, wat weke tevore geskeer is, vermoedelik verkluim het.
Urbanus Botha, wat tussen Britstown en Strydenburg boer, het 138 skaap en boerbokke verloor. Hy het ook dooie springbokke, steenbokke, wilde voëls op sy veld aangetref. Sy huis se dak is ernstig beskadig en ruite uitgeslaan. Bome op die werf se blare is alles afgeslaan. Daar was ook ander strukturele skade. Motors wat onder afdakke gestaan het tydens die haelbui, is ernstig beskadig.
“Ek het in my hele lewe in die Karoo nog nooit so ‘n storm beleef nie,” sê Botha.
Willem Symington, Agri Noord-Kaap voorsitter sê die reën was wyd verspreid van die suide by Sutherland tot in die Kalahari-gedeeltes. “Almal het nie ewe veel gehad nie, maar daar was goeie neerslae wat verligting gebring het in somerreën gedeeltes wat vroeër in die seisoen skrapse reën gehad het.
“In die meeste somerreëngebiede word die meeste reën gewoonlik van Januarie tot April verwag. Die reën wat in Desember geval het, is ‘n goeie hupstoot. Dit moet egter opgevolg word, anders sal die effek nie van lange duur wees nie. Op plekke was daar haelskade en verspoelings, maar ons dankbaarheid is groot oor die goeie reën,” sê Symington.
Geldelike skenkings kan aan die NG Kerk Hopetown se twee bankrekenings gestuur word. Dit is FNB, bankrekeningnommer 62029407154 of Standard Bank, rekeningnommer 041712153. Die verwysing is “noodfonds”. Bewyse van betaling kan aan Van Niekerk by 083 400 3344 gestuur word.