Mighty Men gou weer aangebied

Die jaarlikse Maluti Mighty Men-saamtrek vir mans en seuns word einde September op die Ionia-kersieplaas tussen Fouriesburg en Ficksburg aangebied.


Die jaarlikse Maluti Mighty Men-saamtrek vir mans en seuns word einde September op die Ionia-kersieplaas tussen Fouriesburg en Ficksburg aangebied.

Jo Black, Retief Burger, pastoor Des Wessels en Ockie Fourie, wat sy lewensverhaal sal deel, word verwag op die geleentheid wat van Vrydag 27 September tot Sondag 29 September plaasvind.

Burger sal die Saterdagoggend as gasspreker optree en is ook verantwoordelik vir die lofprysing en aanbidding.

Fourie sal vertel hoe sy lewe op ’n jong ouderdom reeds om dwelms, pornografie en losbandigheid gedraai het, maar hy God eindelik gevind het. Hy is nou ’n heeltydse evangelis.

Op die Saterdagaand sal Wessels, wat bekend is vir Gedagte van die dag met pastoor Des op Facebook, ’n boodskap lewer.

Wessels stuur daagliks bemoedigende boodskappe na duisende Suid-Afrikaners.

Jo Black sal as sanger en gasspreker die naweek afsluit met ’n erediens vir die hele gesin.

“Ons is opreg dankbaar vir die kersieplaas se eienaar, Gilly Scheepers, wat vanjaar die tweede keer sy plaas beskikbaar stel vir Maluti Mighty Men. Dit spreek boekdele van sy wonderlike hart en liefde vir die Here,” sê Werner Maree, een van die organiseerders.

Mans word aangeraai om vroeg die Vrydag, of selfs al Donderdagaand, kamp op te slaan.

Besoekers word versoek om ’n kampstoel saam te bring.

Bywoning van die Maluti Mighty Men-saamtrek is gratis vir almal, en dagbesoekers is ook welkom.

Vir meer inligting bel Maree by 082-330-6603.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.