Haar unieke kruisementdrankie het van haar ’n wenner gemaak in ’n kompetisie wat bedrywige jong entrepreneurs, oftewel Hommelbytjies, vir hul ywer erken.
Jana Geldenhuys (12), ’n gr. 6-leerling aan Trio Primêr in Kroonstad, het sedert 2019 reeds verskeie hoogtes in haar entrepreneursloopbaan bereik.
Vir AfriForum se Besigheidsbytjieskompetisie moes sy ’n voorlegging oor haar bestaande besigheid doen en ’n logo en advertensie wat met die hand ontwerp is, asook haar besigheid se begroting, indien. Sy moes ook aandui hoe sy haar wins bereken.
Jana is as die wenner in afdeling twee, die intersenfase, gekroon.
Die beoordelaars se mening het 50% getel, en die ander 50% van die uiteindelike uitslag is deur stemme van die publiek bepaal. Jana is baie dankbaar vir almal wat vir haar gestem het om as wenner gekroon te word.
Heerlike pryse was op die spel, soos R5 000, ’n geskenkpak en bywoning van ’n aanlyn kursus wat tot voordeel van haar onderneming sal wees.
“Jana is daarvoor verantwoordelik om haar produk te vervaardig, hoewel ons as gesin almal inspring en help om byvoorbeeld die bottels uit te pak en te vul, asook om die etikette op te plak,” sê haar ma, Liesl.
Die kruisementdrankie word by DemZa in Kroonstad verkoop en dit is op die spyskaart van ’n plaaslike koffiewinkel. Jana verskaf ook haar produk aan ’n koffiewinkel in Pretoria.
“Jana verkoop nog net die kruisementstroop, maar let op na nuwe idees om die reeks uit te brei.”
Jana het haar onderneming drie jaar gelede met R400 begin wat sy as geskenk ontvang het, en met haar eerste wins het sy Lego-blokkies gekoop. Sedertdien spaar sy al haar wins, en ook haar prysgeld, vir iets spesiaals.
Liesl maak al baie jare lank die besonderse kruisementstroop vir ’n verwelkomingdrankie wanneer hulle gaste ontvang. Aan die einde van Jana se gr. 2-jaar het hulle vir haar onderwysers die stroop as geskenk gegee. Die onderwysers wou dadelik weet waar hulle die heerlike stroop kon koop, en dit is hoe Jana’s Homemade Mint Cordial ontstaan het.
“Oor tien jaar is ek 21 jaar oud, en dit is my droom dat my kruisementstroop teen daardie tyd so gewild sal wees dat mense oor Suid-Afrika heen dit sal drink,” sê Jana.
Jana se pa, Albert, boer buite Kroonstad en Liesl bedryf die DemZa-winkel. Sy het twee broers en ’n suster: Philip (11), Martie (9) en Adriaan (7).