Matrieks het nog kans vir inskryf

Die beste deel van deelname aan die Matrikulant van die jaar-kompetisie is die mense wat jy tydens die eindronde ontmoet.


Die beste deel van deelname aan die Matrikulant van die jaar-kompetisie is die mense wat jy tydens die eindronde ontmoet.

Só sê Joshua Horak, die eerste wenner wat die St Andrew’s School in Bloemfontein in dié kompetisie opgelewer het.

Topmatrikulante van oor die land heen het nou weer die geleentheid om hulle in te skryf vir die Matrikulant van die jaar-kompetisie van die Universiteit van die Vrystaat, Netwerk24 en Volksblad.

Nie net leer die 14 finaliste mekaar ken tydens die eindronde in Bloemfontein nie, maar ook die vorige jaar se finaliste wat tydens dié geleentheid as chaperones vir die groep optree. Joshua sien reeds daarna uit om later vanjaar saam met die res van die 2022-topgroep chaperones te wees vir 2023 se finaliste.

Joshua, wat vanjaar rekeningkunde studeer, was erg geskok om as finalis gekies te word en boonop te wen.

“Dit was ’n groot skok en ook ’n groot voorreg om te kon wen. Verlede jaar se finaliste, wat ons chaperones was, het die eindronde vir ons baie makliker gemaak.”

Vir Joshua het die prysuitdelingaand blitsig verby gegaan.

“Ek kan baie van wat die aand gebeur het nie onthou nie. Ek kan net onthou ek het almal op pad verhoog toe drukkies gegee om net my kop agtermekaar te kry vir my toespraak.”

Sy kursus pas hom soos ’n handskoen en hy geniet sy studie.

“Die eerste vier weke was baie rof, want alles was vreemd en ’n mens weet nie wat om te verwag nie.”

Gelukkig is twee van sy medefinaliste, Veliswa Black en Chrisna Roelofse, saam met hom in die klas en kon hulle drie mekaar van die begin af ondersteun.

Joshua, verlede jaar ’n prefek by sy skool, verteenwoordig die gehalte leerlinge wat hulle vir hierdie kompetisie moet inskryf.

Nie net is hy ’n uitstaande akademiese presteerder nie, hy het ook aan redenaars deelgeneem en krieket en gholf gespeel vir sy skool.

Benewens akademiese prestasie, leierskap, kultuur- en sportdeelname, moet deelnemers van voorneme wees om in 2024 heeltyds aan Kovsies te studeer.

Leerlinge kan hulself inskryf of hul skool kan hulle inskryf. Die skoolhoof se handtekening en die skool se stempel moet egter op die vorm aangebring word.

’n Stel kriteria wat oor baie jare reeds verfyn is, word gebruik om alle inskrywings te beoordeel en 25 semifinaliste aan te wys. Hieruit word 14 finaliste gekies wat van 9 tot 11 Oktober in Bloemfontein aan die eindronde deelneem.

Die wenner en 13 finaliste ontvang prysgeld van die borge Kovsie Alumni-Trust, Mazars, Absa en Pick n Pay Preller Walk, beurse van UV Studentewerwingsdienste, en die eindronde-geleentheid in Bloemfontein en geskenke ter waarde van R10 000.

Die ander 11 semifinaliste ontvang prysgeld van die Kovsie Alumni-Trust en beurse van UV Studentewerwing.

Inskrywings moet die UV voor of op 4 Augustus bereik.

Vir inskryfvorms of meer inligting, stuur ’n e-pos aan Linda Greyling by greylinl@ufs.ac.za.


Siska Martin

You need to be Logged In to leave a comment.