’n Welbekende oudinwoner van Steynsrus, Rita Bredenkamp, is in die ouderdom van 90 jaar oorlede.
Sy het die afgelope vier jaar, tot met haar dood aan natuurlike oorsake op 4 Augustus, in Durbanville gewoon.
Rita en haar man, Louis, is in die Steynsrus-Senekal-distrik gebore en getoë. Hulle het op die plaas Pandam geboer, waar die vierde geslag tans die boerdery behartig.
Die Bredenkampe se boerdery, op plase onder meer tussen Steynrus en Senekal bedryf, was baie suksesvol.
Die egpaar het ses dogters: Elsabé Kock, Elna Botha, Lurita Swanepoel, Luna van der Westhuizen, Ronél Prins en René Grobler. Al ses hul kinders het aan die Hoërskool Kroonstad (Blouskool) gematrikuleer.
“My ma laat ons met soveel kosbare herinneringe agter, en ons neem met groot hartseer van haar afskeid. Ons is innig dankbaar dat sy 90 jaar lank vir ons geleen was,” sê Elna.
’n Troosdiens is op 12 Augustus in die Baptistekerk in Durbanville gehou, gelei deur ds. Tobie de Wet.
Rita se teraardebestelling sal Donderdag (18/08) om 12:00 in Steynrus plaasvind.
Sy word deur haar dogters, asook 14 kleinkinders en agt agterkleinkinders oorleef. Louis is reeds in 2002 oorlede.
Elsabé, asook Lurita en haar man, Chris, boer steeds op van die familieplase.