Lees Lukas 17:11-19
Vers 15 en 16 lui: En een van hulle het, toe hy sien dat hy genees is, omgedraai en God hardop geprys. Hy het voor die voete van Jesus neergeval en Hom gedank. Hierdie man was ’n Samaritaan.
Lank, lank gelede is twee engele, Gabriël en Migael, ingeroep om ’n spesiale taak op aarde te gaan verrig. God het vir hulle presies verduidelik wat hulle moes doen. Gabriël moes al die dankiesê-gebede op aarde terugbring en Migael al die “asseblief, Here” gebede bymekaarmaak.
Hulle is daar weg om hul mandjies waarin hulle die gebede sou sit te gaan haal. Gabriël (die engel wat die dankiesê-gebede moes insamel) het ’n reuse-groot mandjie saamgebring.
Hy het vir Migael gesê: “Ek bring ’n groot, groot mandjie saam. God is so goed vir hierdie mense op aarde, ek dink my mandjie gaan oorloop van al die dankies vir Hom.”
Migael het sy kop geknik en gesê: “Ek stem beslis met jou saam, daarom vat ek ’n klein mandjie. God is so goed vir die mense, hulle sal sekerlik nie so baie vra nie.”
Die twee is toe af aarde toe.
Migael het geloop en gehoor hoe mense die een ding ná die ander vra. Later het sy mandjie begin oorloop van al die gebede.
Hy het later, toe daar nie meer plek in die mandjie was nie, dit in sy sakke gesit en selfs aan sy vlerke vasgemaak.
Gabriël het met bekommernis besef sy mandjie gaan nie oorloop nie.
Hier en daar het mense onthou om dankie te sê.
Toe hulle na die hemel terugkeer, het albei hartseer gevoel dat mense so maklik kan vergeet om vir God dankie te sê.
Laat ons nooit vergeet om eerste vir God dankie te sê nie.
De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord