Liege Strapp (64), ’n plaasvoorman van Bethlehem, is steeds in die hospitaal nadat hy deur twee pitbulls aangeval is.
“Dit gaan goed met my pa onder die omstandighede. Hy het baie seer gekry, maar deur die genade gaan dit elke dag ’n bietjie beter,” sê Sam Adkins, Strapp se dogter.
Strapp het op 19 September veloorplantings aan sy arms ondergaan, en volgens die dokters het die operasies goed verloop.
Hy het egter die gebruik van sy regterhand verloor weens ’n senuwee wat afgebyt is en waarvoor hy weer ’n operasie moet ondergaan.
Strapp was op Saterdag 16 September in ’n skaapkraal besig toe hy opmerk dat die watertenk oorloop. Hy het na die huis geloop om die kragopwekker aan te skakel waarmee die waterpomp werk toe die honde hom aanval.
Toe hy die hek oopmaak, het die honde hom aan sy hande begin byt. Hy het die hek met sy voete probeer toedruk, maar die honde het hom toe aan sy voete begin byt. Die honde het die hek oopgestamp en Strapp oral aan sy lyf begin byt.
“My pa sê hy het net vir sy keel gekeer en die honde het sy arms en bene verskeur.”
Bykans twee uur lank het Strapp om sy lewe geveg en toe die honde moeg word en gaan lê, het hy ongesiens probeer wegkom, toe een van die honde ’n stuk vleis uit sy been byt.
“My pa het ook erge beserings aan sy nek opgedoen en het ’n infeksie gehad wat onder beheer is.”
’n Plaaswerker het tot Strapp se redding gekom en die honde weggelok. Hulp is toe ontbied. Hy is in die Mediclinic Hoogland in Bethlehem opgeneem, waar hy steeds behandel word.
Strapp het vir die vorige boerdery op die plaas gewerk, maar toe die boer dit gestaak het, is hy deur die nuwe eienaar in diens geneem. Hy werk nou sowat twee maande vir die nuwe eienaar.
Adkins sê hulle is nie seker wat van die honde geword het nie, maar besef dat diere nie altyd beheer kan word nie.
Strapp het voorheen self geboer.