Die jaar is vinnig aan die galop en ek wonder waarheen hardloop die tyd so. Dit was gister nog 1 Januarie, toe ons die nuwe jaar gevier het, en hier staan ons op die laaste dag van Januarie vir 2024.
Tyd is natuurlik ’n baie belangrike faktor in elkeen van ons se lewe omdat ons alles daarvolgens beplan en bepaal. Die tempo voel elke jaar net vinniger, werklik asof ’n mens nie aldag kan bybly nie.
’n Mens kan dalk redeneer dat die ouderdom iets met hierdie ervaring rondom tyd te doen het; tog hoor ’n mens dat die jonger geslag dieselfde uitdagings ervaar.
Daar bestaan nie meer iets soos rustig opstaan soggens om die dag behoorlik en teen ’n stadiger tempo te begin nie.
Nee, jy vlieg uit die bed amper asof jy verslaap het, en dan maal die dag se program deur jou kop.
Twee uur later is net enkele van die vele take vir die dag afgehandel en loop die spanning hoog omdat jy nie seker is dat jy die res van die take vir die dag betyds sal kan voltooi nie.
Die pas van die lewe met lyste verantwoordelikhede wat baie oorweldigend kan wees, laat ’n mens soms angstig en baie gespanne.
Daarmee in gedagte besef ek dat ons tyd sal moet maak om nie in die gejaag verlore te raak nie.
Tydsbeplanning moet vir elkeen van ons ’n voorkeursaak wees. Dit is broodnodig vir ons welstand.
Maak elke dag tyd vir die dinge wat aan jou vreugde verskaf. Al is dit net om ’n rukkie in die son te sit of in jou tuin te werskaf.
Maak tyd vir goedvoeltyd om balans in die gejaagde lewe te verseker.