Maak Swart Vrydag ’n helder dag

Swart Vrydag is net om die draai. Pleks van roekeloos geld bestee, benut hierdie jaarlikse geleentheid om geld op noodsaaklike items deur afslagtransaksies te spaar.


Swart Vrydag is net om die draai.

Pleks van roekeloos geld bestee, benut hierdie jaarlikse geleentheid om geld op noodsaaklike items deur afslagtransaksies te spaar.

Met soveel aanloklike aanbiedinge is dit maklik om meegevoer te raak en te veel te bestee.

Met goeie beplanning en deeglike navorsing kan Swart Vrydag ’n vreugdevolle dag wees.

Maar met ’n bietjie beplanning kan jy met Swart Vrydag noodsaaklikhede aankoop, sonder “om die bank te breek” vóór die feesseisoen, en sodoende boonop ’n “Januworry”-maand te skep.

“Swart Vrydag is ’n wonderlike geleentheid om geld op noodsaaklike items te spaar, maar wees voorbereid en hou by jou begroting,” sê Doret Jooste, hoof van geldbestuur en advies-bemagtiging van Walletwise, Standard Bank se verbruikersfinansieringsprogram.

Jooste stel ‘n paar wenke voor:

1. Stel ’n begroting vir Swart Vrydag op, en hou daarby

Deur dit te doen, kan jy sien hoeveel jy in werklikheid kan bestee. Hou daarby, en vermy sodoende impulsiewe aankope en oorbesteding. Die doel van aankope op Swart Vrydag is om geld te spaar, nie skuld op te bou met oorbesteding nie.

2. Spaar geld op grootmaataankope van nie-bederfbare produkte.

Baie winkels bied uitstekende afslag op nie-bederfbare items soos blikkieskos, droë kosprodukte en toiletware. Dit kan jou vorentoe geld spaar.

3. Aanlynaankope moet ook beplan word, en deel van jou begroting uitmaak. Talle handelaars adverteer hul Swart Vrydag-aanbiedinge aanlyn voor die groot dag aanbreek. Gebruik die katalogusse om pryse te vergelyk en vooraf jou aankope te beplan. Maak ’n lys om gefokus te bly tydens jou inkopies.

4. Kry die beste aanbiedinge op elektronika en meubels. As vir ’n nuwe TV, skootrekenaar, bed of huishoudelike produk gespaar het, kan Swart Vrydag ’n goeie tyd wees om dit te koop. Doen jou navorsing en vergelyk pryse vooraf om te verseker dat jy die beste winskoop kry.

5. Kontant of kaart? Die gebruik van ‘n kredietkaart kan bykomende sekuriteit vir aanlynaankope bied, terwyl jy moontlik terselfdertyd belonings op jou uitgawes verdien. Maak seker om jou kredietkaartsaldo stiptelik te betaal om rentekoste te verminder. Wees versigtig wanneer jy kontant en bankkaarte gebruik, en wees voortdurend van jou omgewing bewus. Beskerm jou PIN en monitor jou rekeningaktiwiteite noukeurig, want bedrieërs en diewe is ook nog meer aktief tydens sulke dae.

6. Kontroleer voor jy koop. Gaan die vervaldatums van produkte, sowel as die terugkeerbeleid en waarborgbesonderhede van produkte na voordat jy dit koop. Dit verseker dat jy opsies het ingeval die produk nie aan jou verwagtinge voldoen nie, herstelwerk benodig of verval het.

7. Ondersteun plaaslike ondernemings wat ook aan Swart Vrydag deelneem. Deur hulle te ondersteun, kan jy tot die groei van jou gemeenskap bydra terwyl jy wonderlike aanbiedinge op unieke items kry.

“Deur te beplan, ingeligte besluite te neem en op noodsaaklikhede te fokus, kan jy hierdie inkopie-aanbiedinge tot jou voordeel gebruik,” sê Jooste.

Met Swart Vrydag kan ’n verbruiker uitstekende winskope kry; of homself vasloop teen ’n skuldmuur of swak produkte.

Slenters wat handelaars gebruik

1. Beperkte voorraad

Handelaars gebruik woorde soos “beperkte voorraad”, “skaars” en “net vandag” wanneer hulle jou vinnig wil laat koop. Vra jouself af of jy werklik die produk nodig het; en of dit nie nog kan wag nie.

2. Konyngate

Dit is wanneer jy op die internet na ’n spesifieke produk soek, en meteens word jou deur advertensies daarvan oorval. Dit is weens algoritmes wat op internet gebruik word. Weereens, vra jouself af of die produkte wat nou aan jou opgedring word, presies dit is waarna jy gesoek het.

3. Fomo

Dit is die “fear of missing out” – die vrees dat jy iets kan misloop. Dit lei tot ondeurdagte besteding. Fomo is ’n groot dryfveer van nuttelose aankope. Moenie items koop wat jy nie teen die volle prys sou gekoop het nie.

4. Onverbeterlike prys

Sommige handelaars blaas die oorspronklike pryse op tydens tydperke soos Swart Vrydag, en merk dit dan byvoorbeeld as “30%-afslag”. Ken jou pryse, en maak seker die produk is van die gehalte wat jy sou wou hê.

5. Die fyndruk

Lees die voorwaardes. In sommige gevalle kan jy nie produkte terugneem wat as ’n winskopie verkoop is nie.

6. Spotgoedkoop

Wanneer ’n splinternuwe TV, byvoorbeeld, vir net R200 adverteer word, is dit waarskynlik ’n bedrogspul. As dit te goed klink om waar te wees, is dit nie waar nie. Doen navorsing; kyk na ’n webtuiste se resensies, en of ’n spesifieke handelaar werklik bestaan.

7. Gratis en “bogo”-aanbiedings

Jy bestee R300 en kry iets van R150 “gratis” by. Dit is ’n slenter om jou meer te laat bestee. Die ander weergawe is “buy one, get one free” (bogo). Val jy daarvoor, koop jy produkte wat jy nie werklik wou gehad het nie. Produkte wat saam met ander gebondel word, is dikwels nie goeie verkopers nie.

  • Bron: Letitia Watson, Huisgenoot
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.