Die perseel van die Dierebeskermingsverenigning in Bethelehem.
Die perseel van die Bethlehemse DBV. Foto: Verskaf

Die feestyd is amptelik op hande en soos elke jaar berei die DBV in Bethlehem voor vir die stygende getal troeteldiere wat tydens die feestyd óf deur hul eienaars verwaarloos word óf verlore raak.

Marius Dreyer, voorsitter van die DBV, sê elke jaar gedurende Desember is die organisasie se hokke vol weens diere wat verlore raak.

“Dit bly jaarliks vir die DBV ‘n reuse-uitdaging om diere te versorg en te huisves, veral oor Desember,” sê hy.

Die organisasie rig daarom ‘n dringende versoek aan troeteldiereienaars om seker te maak dat wanneer hulle met vakansie is, daar goed na hul troeteldiere omgesien word.

“Ons beskik nie oor genoeg hokke om na mense se diere te kyk nie.

“Daar is wel private dierehotelle en mense wat troeteldiere oppas wat hiermee kan help; maak asseblief gebruik van dié geriewe as jou diere alleen tuis moet bly,” benadruk Dreyer.

Om troeteldiere teen die gevolge van die feestyd se vuurwerk te beskerm, sê Dreyer, moet troeteldiereienaars hul diere liewer binne die huis hou.

Kalmeerpille kan ook by ‘n veearts bekom word om die diere te help rustig hou.

Die DBV doen ‘n dringende beroep op die gemeenskap om dierekos vir Desember te skenk, omdat die DBV dan na baie verlore diere moet omsien. Hulle benodig ook genoegsame skoonmaakmiddels.

Om navrae te rig, of vir meer inligting, skakel die Bethlehem DBV by 058 303 3998.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article