Maak die beste gebruik van elke dag

Vanoggend stuur ’n vriend vir my ’n kiekie van ’n rugbywedstryd wat iewers in die vroeë vorige eeu geneem is.


Vanoggend stuur ’n vriend vir my ’n kiekie van ’n rugbywedstryd wat iewers in die vroeë vorige eeu geneem is.

Die kiekie boei my, en terwyl ek probeer uitvind wat die rede daarvoor is, tref die blydskap en arbeidsvreugde van bye in die tuin waar ek sit en werk my oog.

Dis asof die bome en plante ’n diep sug van pure lekkerkry uiter in die mooiste maand van Oktober. Daar is ’n dankbaarheid vir die klein dingetjies wat ons soms as vanselfsprekend aanvaar binne my.

Ek besef vanoggend weer hoeveel ure se werk en moeite dit neem vir bye om een teelepel heuning te maak.

Die wonder is dat die natuurlike produk jare daarna nog gebruik kan word. As ek reg onthou het argeoloë heuning in ’n Egiptiese sarkofaag ontdek wat ná 3 000 jaar nog eetbaar was.

So sit en wonder ek of ons as mens nie meer met die natuur in verbinding moet tree nie, soos ’n mens sou doen met byvoorbeeld ’n geliefde. Dan word die klein wonders kosbaar, en dis die kleinode wat ’n mens deur enige onstuimige tyd kan dra.

Ek vergroot die beeld van die foto wat ek ontvang het en beleef die passie, genot en vasberadenheid van die jong gesigte wat in wit en swart vasgevang is.

Onwillekeurig kom die woorde van John Keating (Dead Poets Society) by my op. Dis nou natuurlik waar hy die klas neem om na die ou foto’s van leerlinge wat jare terug by die instelling studeer het te kyk.

“They’re not that different from you, are they? Same haircuts. Full of hormones, just like you. Invincible, just like you feel. The world is their oyster. They believe they’re destined for great things, just like many of you. Their eyes are full of hope, just like you. Did they wait until it was too late to make from their lives even one iota of what they were capable of? Because you see, gentlemen, these boys are now fertilising daffodils. But if you listen real close, you can hear them whisper their legacy to you. Carpe diem, seize the day, boys, make your lives extraordinary.”

Dit belig ’n paar diep vrae wat elkeen van ons onsself gereeld moet afvra.

Leef ons die lewe waarvoor ons bestem is? Veg ons verbete teen die eentonigheid van die lewe wat ons soms oorweldig?

Die goeie nuus is: Of jy nou vyf jaar oud is, of jou laaste jare betree, dit is nooit te laat nie.

Die lewe gaan nooit perfek wees nie. Soos wat een by in sy ganse lewe dalk een teelepel heuning maak, maak dit die moeite werd – al kan sommige dit dalk as klein of onbeduidend afmaak.

Laat dit werk. Verander hoe jy dink oor die lewe, en jou omstandighede sal verander.

“Master your mindset, and you will master your life!”

Carpe Diem. Pluk die dag en maak jou heuning soet.

You need to be Logged In to leave a comment.