Die vrou van Bethlehem wat Woensdag na bewering gif in haar gesin se sop gegooi het, wat gelei het tot die dood van twee van haar kinders en hul pa, en hul ander dogter in die waakeenheid laat beland het, bly in aanhouding.
Maphephi Mokwena (31), die kinders se ma, en haar suster, Maria Mokwena (21), het Vrydag op drie aanklagte van moord en een van poging tot moord in die landdroshof in Bethlehem verskyn.
Maphephi bly in aanhouding tot 30 Junie vir haar formele aansoek om borgtog, terwyl borgtog gratis toegestaan is aan Maria. Sy sal op dieselfde datum as haar suster weer in die hof moet verskyn, sê kapt. Phumelelo Dhlamini, polisiewoordvoerder.
Frans Pamplen (49) en sy drie dogters, Mamsi Pamplen (14), Lerato Mokwena (11) en Meiki Mokwena (10), het die boontjiesop Woensdag vir ontbyt geëet.
Net Lerato het oorleef. Sy was Vrydag steeds in die Dihlabeng-hospitaal se waakeenheid.
Die gesin se kat is ook dood nadat dié ook van die sop geëet het.
Maria is dieselfde dag aangekeer na aanleiding van omstandigheidsbewyse in ’n voorlopige ondersoek dat sy die sop gekook en vir hulle gegee het. Sy het nie self daarvan geëet nie, sê Dhlamini.
Maphephi is Donderdag in hegtenis geneem toe die polisie terug is na hul huis op ’n hoewe in die Bethlehem-omgewing om verdere ondersoek in te stel.
In ’n wending in die gesinstragedie het die kinders se ma Donderdag met die polisie se besoek aan die huis glo skuld beken.
“Sy (Maphephi) het erken dat sý die sop gekook en die gif ingegooi het, en is in hegtenis geneem.”
Hy sê Maphephi het erken dat sy die landbou-gifstof Temik (aldikarb) gekoop het om in die sop te gooi.
Dhlamini sê Maria het glo die sop aan die man en kinders voorgesit en het vermoedelik van die gif geweet, omdat sy nie self daarvan geëet het nie.
“In die nadoodse ondersoeke is bevind dat daar gif in die sop in hul mae was.”
Die kinders is Woensdag ná die ontbyt na die plaasskool Utopia, en Pamplen het gaan werk.
Dhlamini sê onderwysers van die skool het die kinders omstreeks 10:00 na ’n kliniek gehaas nadat hulle gekla het dat hulle maagkrampe het.
Mamsi en Meiki het in die kliniek gesterf en Lerato is in die Phekolong-distrikshospitaal opgeneem. Sy is daarna na die Dihlabeng-hospitaal se waakeenheid oorgeplaas.
Pamplen is ook na die Phekolong-distrikshospitaal gehaas nadat hy van maagkrampe gekla het, waar hy Woensdag dood is.
Dhlamini sê die familie woon op ’n hoewe, waar Pamplen ook gewerk het.
Dr. Tate Makgoe, Vrystaatse LUR vir onderwys, het in ’n verklaring sy medelye met die oorledenes se naasbestaandes uitgespreek.
“Ons is diep hartseer oor die ontydige sterftes en dra ons medelye aan die familie oor wat hul kinders op dié tragiese wyse verloor het,” het Makgoe gesê.
Die onderwysdepartement sê die provinsiale departement van maatskaplike ontwikkeling sal berading aan die oorledenes se familie, leerlinge en onderwysers van die skool verskaf. Volgens die verklaring het senior departementele amptenare die familie Donderdag besoek.