Lywige vangs beïndruk

’n Jong hengelaar van Bethlehem het die Vrystaat-span op die Suid-Afrikaanse Varswater-oewerhengelfederasie (SAVOF) se nasionale byeenkoms verteenwoordig.


’n Jong hengelaar van Bethlehem het die Vrystaat-span op die Suid-Afrikaanse Varswater-oewerhengelfederasie (SAVOF) se nasionale byeenkoms verteenwoordig.

Janes Pieterse (14) het puik presteer op dié byeenkoms, wat van 16 tot 19 Desember by die Bloemhofdam plaasgevind het.

Omdat sy span die algehele wenner was en as die nasionale kampioen gekroon is, het dié gr. 9-leerling aan die Hoërskool Witteberg ’n goue medalje ontvang. Boonop het hy ’n bronsmedalje verwerf vir die swaarste baber wat gevang is, en ’n trofee vir sy algehele derde plek in die junior afdeling.

Janes sê dit was vir hom ’n voorreg om die Vrystaat-hengelspan te verteenwoordig, en hy is trots dat sy span as kampioen uit die stryd kon tree.

Danksy sy prestasies op dié byeenkoms is hy gekies om van 20 tot 21 Desember aan die SAVOF se proewe deel te neem. Hy wag nog vir die uitslae.

Volgens Janes het hy ses jaar gelede as stokperdjie begin hengel.

“Drie jaar gelede het ek die eerste keer aan kompetisies begin deelneem, en ek geniet elke uitdaging.”

Janes, ’n lid van die Maluti-Oos-hengeklub in Bethlehem, oefen twee keer per week om meer akkuraat lyn te gooi. Wanneer hy nie Saterdae aan kompetisies deelneem nie, hengel hy graag vir ontspanning by die Vaaldam of plaasdamme in die Reitz-distrik.

“Hengel is ’n baie lekker sportsoort en is vreeslik ontspannend,” sê hy.

“Ek is baie lief vir die natuur, en daarom geniet ek dit so baie.”

Hoewel Janes rugby en krieket vir sy skool speel, beskou hy hengel as sy groot liefde.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.