Vanjaar se Bethlehem-lugskou, wat groot opwinding en vermaak opgelewer het, het in ’n oogwink ontaard terwyl ’n veldbrand op die parkeerterrein 19 voertuie beskadig het.
Die opwinding op die lugskou, wat duisende toeskouers na Bethlehem trek en ’n goeie finansiële inspuiting vir die dorp is, is op Saterdag 7 September omstreeks 14:00 in chaos omgesit.
Kapt. Loraine Earl van die polisie het Saterdag bevestig dat ’n veldbrand omstreeks 14:00 ontstaan het en dat die sterk wind die brand laat versprei het.
Volgens Earl het 19 voertuie in die slag gebly, waarvan 9 voertuie heeltemal uitgebrand is.
In ’n persverklaring deur die Dihlabeng-munispaliteit wat Sondag uitgereik is, betreur die munisipaliteit die gebeure wat die einde van ’n andersins baie suksesvolle lugskou beteken het.
Die Bethlehem-lugskou is ’n eerste keer in vier jaar deur die Dihlabeng-munisipaliteit aangebied, in samewerking met ander belanghebbendes.
Die munisipaliteit sê streng veiligheidmaatreëls vir die lugskou was in plek en die veldbrand het ontstaan op die Gobbles-Foley-terrein oorkant die vliegveld, wat as die parkeerterrein vir die lugskou gedien het.
Die brand het glo ontstaan deur minderjariges wat sonder toesig ’n vuur wou aansteek om vleis te braai, en sterk winde het die brand vinnig laat versprei.
Geen sterftes of ernstige beserings is aangemeld nie. Net een skouganger met ligte brandwonde aan sy hand en gesig het mediese hulp ontvang.
Die bekende kommentator Brian Emmenis van Capital Sounds, wat gereeld op lugskoue oor Suid-Afrika heen uitsaai, sê digte rook het dit vir vlieëniers onmoontlik gemaak om die grond- en landingsgebiede te sien, en die lugskou is onmiddellik gestaak.
Emmenis het ook bevestig dat alle owerhede op die lugskou teenwoordig was.
Die VF Plus-leier in die Vrystaat, Jan van Niekerk, en distrikraadslid vir Thabo Mofutsanyana, Charl Kalamer, het die toneel in Bethlehem besoek.
Volgens hulle bevindings kon die skade voorkom kon gewees het indien die munisipaliteit en die polisie effektiewe maatreëls ingestel het om brande te verhoed, veral met die groot aantal besoekers aan die lugskou.
Roy Jankielsohn, Vrystaatse DA-leier, het beaam dat indien alle voorsorgmaatreëls vir noodtoestande vooraf ingestel was, die gebeure nie sou plaasvind nie.
Hy het ook beklemtoon dat opgeleide beamptes toesig oor die hele lugskouterrein moes hou om sodoende risiko’s te identifiseer en onmiddellik op te tree.
- Een van die vlieëniers wat Saterdag aan die lugskou deelgeneem het, het ’n ander soort teëspoed ervaar. Sy Toyota Fortuner is by die gastehuis in Bethlehem waar hulle oornag het, gesteel.
Die saak word ondersoek.