Loop lig vir die lewe se slaggate

Dit is reeds sterk skemer toe ek en ’n kollega in die pad val ná ’n storie wat weer die hare laat rys, maar dit nou daar gelaat.


Dit is reeds sterk skemer toe ek en ’n kollega in die pad val ná ’n storie wat weer die hare laat rys, maar dit nou daar gelaat.

So ’n Kaapse motreën begin uitsak, in die verste hoek van die Oos-Vrystaat, ongeveer 70 km van Mpumalanga en net so oor die 60 km van die KwaZulu-Natalse grens. ’n Rustigheid volg terwyl ons terugry.

Natuurlik, teen ’n slakkegang – omdat die slaggate nie altyd baie sigbaar is weens die grou lig nie. Die reën glinster op die pad in die voertuig se hoofligte, en dit laat my gedagtes gaan.

In my enigheid dink ek hoe ons almal se lewenspad vol slaggate is, of ons daarvan hou of nie. Hoewel ons nie altyd die diepte en skade wat so gat gaan aanrig, kan bepaal nie, weet ons ons gaan dit voel.

Soms is ons ook nie baie versigtig nie, dan tref ons dit hard.

Die slaggate van die lewe is deel van ons elkeen se lewensreis en onvermydelik. Daar is slaggate wat jou plat teen die grond slaan en ander wat darem meer oppervlakkig en genadig is. Party skilder dadelik ’n diep verwoestende beeld, maar genadiglik is die meeste darem met sand en klip gevul. Hy slaan jou, maar nie te hard nie.

Ek hou die brullende vragmotors dop wat sonder skroom oor massiewe slaggate jaag, tewyl die ligte voertuie moet uitswaai om die slaggat mis te ry.

Ek kom tot die gevolgtrekking dat sommige mense soos vragmotors is wat voortbeur en bo-oor die slaggate van die lewe gaan sonder dat hulle van die pad afgegooi word. Ander is meer versigtig en probeer so ver moontlik die slaggate te vermy, terwyl ander daar deur moet ry of hulle wil of nie.

Hoe dit ook al sy, slaggate gaan daar wees, en elkeen van ons hanteer dit op ons eie manier. Vir party is dieselfde slaggat net ’n ligte stamp en vir ander is dit ’n donker, diep gat.

Mag jy lig loop om die slaggate van die lewe – of, wanneer jy dit nie kan vermy nie, hoop ek die gat is met klip en sand gevul sodat jy maklik daardeur kan gaan. Ons ervaar dit immers almal. Veilig ry om die slaggate in jou lewe.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.