Liggaamsbouer laat koppe draai

? Liggaamsbouer van Kroonstad het die koppe laat draai tydens die Muscle Mulisha Nasionale Liggaamboufederasie (NPC) se Grand Prix en Muscle Mulisha kwalifiserende ronde waar sy onderskeidelik in albei afdelings die tweede plek en ? silwermedalje verwerf het.


‘n Liggaamsbouer van Kroonstad het die koppe laat draai tydens die Muscle Mulisha Nasionale Liggaamboufederasie (NPC) se Grand Prix en Muscle Mulisha kwalifiserende ronde waar sy onderskeidelik in albei  afdelings die tweede plek en ‘n silwermedalje verwerf het. 

Chantel du Plessis (40), wat sedert 2017 die sport beoefen, het in bogenoemde kompetisies aan die bikini ope klas in die D-afdeling en bikini bo 35-afdeling met 30 ander vroue meegeding. Chantel het 18 weke voor die kompetisie as voorbereiding met haar oefenprogram begin.

Soos haar kompetisielyf ontwikkel het, het sy haar dieet in die verskillende fases aangepas. “Hierdie kompetisies was ‘n ongelooflike ervaring, veral saam met my nuwe afrigter, Craig Brown, omdat ons ’n ander benadering ter voorbereiding geneem het. Boonop was dit ‘n baie strawwe kompetisie. Die deelnemers was almal van hoogstaande gehalte en dit was ‘n voorreg om teen hulle mee te ding.”

Die Muscle Mulisha-kompetisie het op Vrydag (27/05) en Saterdag (28/05) in Randburg plaasgevind. Sy berei nou voor om moontlik in Desember weer aan ‘n  NPC-kompetisie deel te neem. 

Chantel sê sy ontmoet by elke kompetisie nuwe deelnemers en het goeie vriende gemaak wat mekaar ondersteun en bemoedig. Dit is vir haar interessant om te sien hoe die verskillende deelnemers voorberei vir hul afdelings en dat daar oor die algemeen ‘n heerlike atmosfeer van samesyn by die kompetisies heers. “Ek geniet dit veral om in Gauteng aan liggaamsboukompetisies deel te neem, want ná die tyd kan ek myself met lekker Krispy Kreme doughnuts bederf.”

Weens mediese uitdagings het sy in 2017 aan die sport begin deelneem en na haar eerste liggaamsboukompetisie was die spreekwoordelike koeël deur die kerk. Sy oefen vir die afgelope vyf jaar by die Tribal Fitness-gimnasium in Kroonstad en is baie pligsgetrou en gemotiveerd in haar oefenroetine. Chantel werk by die Fuelit-dieseldepot op die dorp en wil graag haar plaaslike borge hartlik bedank vir hul bydrae. 

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.