VrystaatKroon-leser Hannetjie Nel deel haar ervaring: “Daar kom ’n tyd wanneer jou liggaam vir jou siel weghol, wanneer die lewe so swaar op jou skouers druk dat jy sukkel om môre duidelik te sien. Tog is daar ’n plek waar jy kan gaan stilstaan sodat jou siel weer jou liggaam kan inhaal. ’n Plek waar jy weer kan asemhaal en waar jou hart weer kan heel word. Moolmanshoek in die Oos-Vrystaat is ’n plek waar jy jouself in die weghollewe kan vind. Die mense daar is hartsmense en die roetes met jou rugsak en stapstok, met natreën en poel-swem in die mooier as mooi natuur, is ’n lafenis vir die siel. Die majestueuse sandsteen­kranse, water­valle, veldblomme en sonsondergange is asem­rowend. Wanneer ’n mens by Langesnek inry, ervaar ’n mens ’n goddelike teenwoordigheid wat fisiek op die vel gevoel kan word. Stiltetyd voel anders, voëls klink anders, die sterre skyn helderder en selfs jou koffie proe anders. Hiermee wil ons dankie sê aan Moolmans­hoek, die Langesnek-leierskap­ontwikkelingsentrum (LDC) en Niklaas, Isabel en kinders. Ons siele is gevoed. Foto: Hannetjie Nel