Lig laat duisternis swig

Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matteus 5:16).


Laat julle lig so voor die mense skyn, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemel is, verheerlik (Matteus 5:16).

Die ou verhaal word vertel van die verlamde seuntjie wat feitlik heeldag by sy venster sit en uitkyk.

Een aand sien hy opnuut raak hoe ’n man die straatligte voor sy venster aansteek. In daardie stadium was daar nog nie elektrisiteit nie, so die straatligte moes met die hand aangesteek word. ’n Lap is in lampolie gedoop, aan die voorpunt van ’n lang stok vasgemaak en aan die brand gesteek om die straatligte aan te steek.

Toe sy verpleegster by hom kom, vra sy waarna hy so aandagtig kyk. Hy sê toe hy kyk hoe die man gate in die donker steek.

Volgelinge van die Here Jesus is geroep om hul lig in die donker wêreld te laat skyn; gate in die duisternis te steek.

Die lewe van vandag is baie donker. Soveel dinge wat van die duisternis se ryk deel is, gebeur elke dag.

Satan en al sy verleidings laat baie mense in donker putte val. Ons as Christene het die taak om met ons goeie werke die lig van die Here sigbaar te maak en so gate in daardie donkerte van die lewe te steek. Laat ander mense dan ook die lig van die Here deur jou lewe raaksien.

  • De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.