Liefde nie beperk tot een dag nie

Net toe ons ná vele gesneuwel­de Nuwejaarsvoornemens tot verhaal kom, maak Februarie sy opwagting met ’n boeket vol liefde. Valentynsdag is hier, en dit bring ’n mengelmoes van emosies.

Liefde

Credit: Getty Images

Net toe ons ná vele gesneuwel­de Nuwejaarsvoornemens tot verhaal kom, maak Februarie sy opwagting met ’n boeket vol liefde. Valentynsdag is hier, en dit bring ’n mengelmoes van emosies.

Vir sommige is dit ’n dag gevul met giggelende opwinding by die ontvangs van enigiets van ’n plastiekroos tot sjokolade wat meer na karton as kakao smaak.

Vir die skoolgaande jeug word dit ’n toets van moed: Daar staan jy met jou natgeswete handpalms, gereed om jou hart op die spel te plaas vir ’n meisie. Wat van die meisies? Hulle wag in spanning, hoopvol dat die skool se George Clooney (waarteen Ouma hulle gewaarsku het) hulle dalk sal oplet.

Die ervaring van Valentynsdag wissel tussen afwagting en angs vir baie Z ’n toets van moed en ’n kans op liefde.

Die oorsprong van die dag lê in ’n romantiese mengsel van antieke tradisies en legendariese verhale, wat alles van Romeinse feeste tot middeleeuse poësie behels.

Valentynsdag is genoem na Sint Valentyn, ’n naam wat deur verskeie dapper martelare van die derde eeu gedra is, en het ’n romantiese kinkel gekry toe die oortuiging ontstaan het dat voëls op hierdie dag hul maat kies.

Die dag het oor die eeue heen ontwikkel in ’n simbool van liefde, gevier met die uitruil van geskenke en woorde van passie.

Miskien moet Valentynsdag ons eerder daaraan herinner dat liefde verder strek as die kommersiële rooi-en-wit van kaartjies en geskenke.

Liefde is die kuns van gee sonder enige verwagting dat iets ontvang sal word; ’n inspirasie vir ander om ook lief te hê en te leef.

Dit is ’n persoonlike reis van selfontdekking, selfliefde, erkenning dat sonder om jouself te waardeer – foute en al – die wesenlikheid van liefde in jou lewe en die lewe van dié rondom jou verlore gaan.

Of Valentynsdag vir jou ’n bron van vreugde of ’n dag is om te vermy, onthou dat ware liefde nie beperk is tot ’n enkele datum op die kalender nie.

Dit is ’n daaglikse avontuur, ’n lewenslange reis wat elke oomblik verdien om gevier te word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.