Vanaand het ek die krag van Jesus ervaar, sommer so op sy wêreldse verjaardag.
Ons bly al ses jaar lank hier in ’n vreemde land. Ons ken al ons bure en hulle ken ons.
Hoewel ons nie ’n kultuur deel of dieselfde taal praat nie, speel ons maar saam as die kinders van ons buurt ons met speelgoed-gewere skiet en slaan “dood” neer – natuurlik tot almal se vermaak.
Ons deel “mooncakes” en rooi koevertjies uit wanneer dit die Chinese Kersfees en Nuwejaar is.
Ons is stil in ons huis; vriendelik en behulpsaam, maar stil.
Vanaand het ons Chinese bure vir ons die mooiste Kersgeskenk gebring. Dit het my laat besef: Christen of nie-Christen, dit maak nie saak nie. Al wat regtig saak maak, is liefde vir jou medemens.
Geen grens, taal of enigiets anders kan dit stop nie.
Is dit dan nie juis die mooiste Kersgeskenk ooit nie?