Lewensstryd oorkombaar

Om Vrouemaand te vier gesels VrystaatKroon met verskeie vroue in die gemeenskap oor hul rol in die samelewing. Isabel Kruger (59), gebore en getoë in Bloemfontein maar woonagtig in Heilbron, kry hier ’n spreekbeurt.

Isabel Kruger Foto: Verskaf

Credit: SYSTEM

Om Vrouemaand te vier gesels VrystaatKroon met verskeie vroue in die gemeenskap oor hul rol in die samelewing. Isabel Kruger (59), gebore en getoë in Bloemfontein maar woonagtig in Heilbron, kry hier ’n spreekbeurt.

“In die lewe het ek geleer daar is vroue met geen geleerdheid wat my verstom laat oor die krag en inspirasie wat in hulle opgesluit lê. Ek glo vroue is gemaak om ’n verskil in die lewe te maak, ongeag hul omstandighede.”

Só meen Isabel, ’n dinamiese, bekwame en talentvolle vrou wie se hande vir niks verkeerd staan nie. Nie net is sy ’n heeltydse menslikehulpbronbestuurder by ’n groot onderneming nie, sy is ook deeltyds betrokke by Vrystaat Landbou (VL) waar die fokus op veediefstal is. As ’n opgeleide speurder wat jare lank in die bedrog-eenheid van die polisie se speurafdeling werksaam was, bied sy opleidingsessies rakende wetgewing aan die polisie, staatsaanklaers en boere, op provinsiale vlak.

In 2010 is die Dame van die jaar-eerbewys aan haar toegeken deur Radio Overvaal – waar sy ook sewe jaar lank as deeltydse omroeper betrokke was.

Isabel is die orrelis van die NG kerk Kroonstad-Noord in Kroonstad. Sy het onlangs ’n oorkonde van die Suider-Afrikaanse Kerk- en Konsertorrelistevereniging (Sakov) ontvang vir haar betrokkenheid in die musiekbedryf die afgelope 42 jaar.

In 2016 het sy ’n beurs vir orrelopleiding van Sakov ontvang en onder leiding van prof. Theo van Wyk aan die Universiteit van Suid-Afrika (Unisa) dié opleiding deurloop.

Sy is bekend vir haar uitstekende musiekuitvoerings en het al twee keer saam met die bekende orrelis Martin Mans van Nederland konserte aangebied. In Februarie 2024 sal sy, Mans en Jan Elsenaar ’n vertoning in Kroonstad lewer.

Die groep Tres Anime was sewe jaar lank deel van haar lewe, waardeur sy saam met sangers optredes gelewer het.

In Mei het sy ’n groot en suksesvolle musiekfees met ’n 11-stuk-orkes aangebied, bygestaan deur ’n komponis en vyf operasangers.

Verder het sy teologie studeer, en sy sal per geleentheid plek op die preekstoel inneem om die boodskap te bring. Sy meld dit is ’n groot passie, maar sy geniet dit om met vroue op vrouekampe te werk of by gesellighede vir vroue praatjies te lewer.

Isabel spog met Protea-kleure in kragoptel en was bevoorreg om op ’n geleentheid dié kleure saam met haar twee seuns, SJ (35) en Inus Coetzee (33), te ontvang. Sy het twee keer vantevore as operatiewe bestuurder vir die kragoptel-wêreldkampioenskapsbyeenkoms hier in Suid-Afrika opgetree en was die spanbestuurder van die Protea-vrouespan. Sy is ook ’n internasionale skeidsregter in die sportsoort.

Dan het sy as ’n beoordelaar vir skoonheidskompetisies opgetree, wat vir haar ’n unieke ervaring was.

“Ons vroue maak baie foute, gewoonlik koffers vol foute. My ouma Kitty van der Merwe het altyd gesê gaan haal jou koffer sodat ons kan ry. Sou dit nie wonderlik wees as ons al die foute wat ons gemaak het, in ’n koffer kon pak en dit êrens langs die pad by ’n afgrond kon afgooi nie?

“Die seer in die lewe bring jy soms oor jouself, en ander daag net eendag op as die dokter vir jou sê dit is kwaadaardig.”

Melanoom, die gevaarlikste vorm van velkanker, was by Isabel diagnoseer. Sy het erg daaronder gely, maar danksy behandeling is die kanker in remissie.

“In die donker tye het ek geleer om net op God te vertrou, al was die siekte hoe uitdagend. Elke keer het ek gebid dat die Here vir my krag moet gee om die siekte te oorwin.”

Bykans twee jaar ná die kanker is sy met ’n outo-immuunafwyking wat die liggaam se natuurlike beskermingstelsel vernietig, gediagnoseer – en sy sê dit hou elke dag nuwe uitdagings in.

“Die lewe het nie witbroodjies nie. Elke vrou het ’n seer en ook ’n vreugde wat sy saamdra. Ons kan nie kies nie. Laat die bote met jou uitdagings daar in die middel van die see dobber. Dan besluit jy watter een jy kan hanteer en doen dit dan deeglik die eerste keer. Jy kan dit nie uit jou eie doen nie, daarom moet jy met God tyd spandeer.”

Isabel sê haar grootste trots is haar dogter, Suanca Coetzee (37), seuns SJ en Inus, en tien kleinkinders.

You need to be Logged In to leave a comment.