Benette Brits, adjunkhoof van die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem.Foto: Verskaf


Ter viering van Vrouemaand gesels VrystaatKroon met vroue in die gemeenskap oor hul rol in die samelewing.

Benette Brits (61) se positiewe energie is tasbaar wanneer jy met dié opgeruimde en dinamiese adjunkhoof aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem gesels.

Benette, gebore in Bloemfontein, staan al die afgelope 34 jaar haar plek vol as ’n bekwame onderwyser. Die afgelope agt jaar is sy die adjunkhoof van Voortrekker.

Sy vertel sy het eers verpleegkunde studeer, maar vinnig besef dat sy eerder in haar pa se voetspore wou volg. Prof. Niel van Loggerenberg was dekaan in opvoedkunde aan die Universiteit van die Vrystaat (UV), asook die voormalige uitvoerende beampte van die Suid-Afrikaanse Onderwysersunie (SAOU) in die Vrystaat.

“My pa het diep spore in die onderwysberoep gelaat, en hy was vir seker die grootste inspirasie vir my besluit om onderwys te studeer,” sê Benette.

Nadat sy haarself aan die UV as onderwyser bekwaam het, met Sielkunde en Natuurwetenskap as vakgebied, het sy haar onderwysloopbaan aan die Afrikaanse Hoërskool Kroonstad (Rooiskool) begin. Sy is sedert 1996 aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem verbonde.

“Ek is lief vir mense. Dit gee my energie om met mense te werk. Ek hou daarvan om iemand iets te leer en dan te sien hoe hulle dit bemeester. The sky has no limits!

“Onderwys lewer elke dag iets nuuts op en verskillende dinge om te hanteer of aan te pak, en dit is wat kos vir my siel is.”

Dit is haar ingesteldheid en lewensfilosofie om altyd positief te wees. Sy sê dit is aan haar pa te danke, omdat hy positiwiteit van kleins af deel van haar menswees en DNS gemaak het.

Benette beskryf haarself verder as ’n passievolle mens wat elke dag só probeer leef dat haar dade harder spreek as haar woorde.

As Christen is sy ’n waardegedrewe mens. Respek, asook integriteit, is vir haar ononderhandelbaar.

Benette is ’n ekstrovert en gedy tussen mense, veral wanneer sy onder druk is.

Daaglikse beplanning is vir haar van kardinale belang, asook om lysies te maak om haar dagtake as vrou, ma en juffrou te prioritiseer en om balans te behou.

Sy erken egter dat dit soms moeilik is om al die balle gelyk in die lug te hou.

Benette is in Augustus as distrikswenner in die Thabo Mofutsanyana-distrik aangewys as deel van die nasionale onderwys-eerbewyse. Sy het uitgeblink in die afdeling vir uitnemendheid in hoërskool-leierskap en was ’n finalis in die Vrystaatse ronde.

Benette is lief vir tuinmaak, leef haar kreatiwiteit uit deur te skryf en matriaal vir sosialemediaplatforms te ontwerp en reis graag na verskillende lande. Dit is haar sielskos om sommer net lekker langs die see te kan uitspan.

“Vroue speel vandag ’n deurslaggewende rol in die gemeenskap. Een besef wat ek elke dag het, is dat elke vrou haar hand moet opsteek vir haar huis, by haar werk en oor haar waardes.

“Op hierdie manier leef jy elke dag voluit met integriteit.”

Benette is die afgelope 35 jaar met dr. Leon Brits getroud en sê hy is haar beste vriend, die beste eggenoot en beste pa vir hul vier kinders, asook ’n ware, liefdevolle oupa.

Die egpaar het vier kinders: Mánielle (33), Jacques (31), Niel (30) en Leon (30). Hulle het ook ’n kleinkind, Luan, wat 18 maande oud is.

You need to be Logged In to leave a comment.

Gift this article