“Ek is baie dankbaar dat ek die leraar van ’n wonderlike gemeente kon wees wat werklik omgee vir God, mekaar en die wêreld. Dit sal my altyd bybly,” sê dr. Hannes Els (67), wat ná 34 jaar as predikant van die NG kerk Kroonstad-Suid afgetree het.
Els is ’n boorling van Heilbron wie se ouers, Boet en Kobie Els, op ’n plaas tussen Koppies en Heilbron geboer het.
Hy het sy skoolloopbaan in Heilbron voltooi, waarna hy teologie aan die Universiteit van Pretoria (UP) studeer het.
Hy is ook in dié tydperk met sy skoolliefde, Sandra (67), getroud.
Vir twee jaar was hy kapelaan in die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW), waarna hy deur die NG kerk Westergloed in Nelspruit beroep is.
Ná sewe jaar as leraar van Westergloed het hy en sy gesin na Kroonstad verhuis, waar hy tot 26 November die leraar van die Kroonstad-Suid-gemeente was.
Daar was vir hom verskeie hoogtepunte, maar wat hom altyd sal bybly, is die vreugde wat sy gemeente hom gebied het.
Ook die aanlyn dienste en dagstukkies wat uit die Covid-19-pandemie gebore is en dat sy gemeente nooit bang was vir vernuwing nie. Dit was vir hom wonderlik toe kerkdienste weer kon plaasvind tydens die pandemie en hy sommer drie dienste op ’n Sondag kon aanbied.
“Dit was werklik vir my ’n besonderse en vernuwende tydperk.”
Hy doen nog berading by die Hoërskool Trio en gaan ’n bid-en-beradingspraktyk van sy huis af bedryf.
Hy stel ook ’n dagstukkieboek saam en hoop om dit binnekort te kan uitgee.
Sy stokperdjie is om jagmesse te maak, en hy wil graag meer aandag aan sy gesondheid gee.
Els en sy vrou het drie kinders: Martin (40), Marike (37) en Erika (30). Die egpaar het vier kleindogters en hul enigste kleinseun, Dawid, word binnekort een jaar oud. Hulle kan nie wag om die spesiale dag saam met hom te vier nie.
Ds. Gerhard Wessels (34) is nou die nuwe leraar van die NG kerk Kroonstad-Suid.
Wessels is oorspronklik van Riebeeckstad en het in Lichtenburg gematrikuleer, waarna hy teologie aan die Universiteit van die Vrystaat (UV) studeer het. Daar het hy drie jaar lank by die Aurora-alkohol-en-dwelmsentrum in Bloemfontein met verslaafdes gewerk, voordat hy na Welkom en toe Kroonstad beroep is.
Hy is met ds. René Wessels, ’n leraar aan die NG kerk Virginia, getroud.
Ds. Joe Müller (40) is die nuwe leraar van die NG Moedergemeente in Kroonstad en is ook die jongste leraar wat nog by die gemeente beroep is. Hy het in Augustus die beroeping aanvaar toe ds. Amos Kotzé afgetree het.
“Ek besef ek het groot skoene om vol te staan, maar dit is ook vir my ’n ongelooflike eer om hier as leraar te dien.”
Müller is oorspronklik van Brakpan en het teologie aan die UP studeer. Hy is in 2009 beroep by die NG kerk Kroonheuwel-Noord in Kroonstad, waar hy vir sewe jaar leraar was.
In 2016 is hy beroep na die NG kerk Bethlehem-Oos en was daar leraar tot hy die leraar pos in Kroonstad aanvaar het. Hy is met Retséh getroud wat ’n onderwyseres is aan die Johan Slabbert-skool en die egpaar het twee seuns: Hendré (10) en Johanru (5). Müller het ’n groot liefde vir visvang en geniet graag ’n potjie gholf vir ontspanning.
“God is my eerste liefde, die kerk my tweede liefde en derde is my gesin vir wie ek ongelooflik lief en dankbaar is.”
Sedert April is ds. Marius Barnard (59) die nuwe leraar van die NG kerk Kroonstad-Oos, nadat hy ses jaar lank in die bediening in Hofmeyr in die Oos-Kaap gestaan het.
Barnard is getroud met Hanlie, ’n maatskaplike werker en ’n oud-Kroonstadter, en die egpaar het een dogter, Shani (23), wat in Kaapstad woon.
Barnard is sedert 1991 in die bediening en is oorspronklik van Welkom.
VrystaatKroon
het groot waardering vir Els se maandelikse bydraes tot die publikasie met die skryf van die Sielskos-rubriek.