“My nooi is in ’n nartjie. My ouma in kaneel. Daar’s iemand . . . iemand in anys. Daar’s ’n vrou in elke geur.”
Die waarheid wat lê in dié woorde van Opperman plaas die kroon op vrouwees, want daar is nie nog ’n ander vrou soos jy.
My ouma was baie uniek; altyd netjies geklee in sykouse en die mooiste pakkies klere.
Die hare is elke week onder in die straat by tannie Miem se haarsalon gedoen. Ek kon ure na al die stories luister en het later jare besef dat as jy wil weet wat in die dorp aangaan, moet jy by die salon ingeskakel wees. Indien jy onseker was van wat in jou eie lewe aangaan, sou dit ook raadsaam wees om by die salon ’n draai te maak.
Gedagtes in jou binneste oor jou lewe is gewortel en laat die besef dat jou grootword en unieke vrouwees onlosmaaklik deel word van jou asemhaling.
Die lewe bring vir ons die wysheid dat seer, die mooi en die onverwagse elke vrou druk om haarself te vorm. Vrouwees is nie dit wat ons aantrek of hoe stylvol jy is nie, maar die manier wat elke vrou reageer wanneer haar naam genoem word.
Ons is in vrouemaand en daarom is dit belangrik dat elkeen besef dat jy net jouself moet wees.
Die eerste tree in die oggend is die belangrikste, want in jou onderbewussyn is daar reeds besluit hoe jy die dag gaan aanpak. Dit is ook ’n ongeskrewe reël dat die dag gewoonlik die teenoorgestelde uitdraai as waarvoor gevra is.
Ek moes al by meer as een geleentheid ’n oomblik gaan stilstaan om te herbesin. Die verwronge deel van bestaan moet nie die oorsaak wees dat jou vrouwees in die donker by die agterdeur uitstap nie.
Vrouwees is om te weet dat ek en jy uniek deur God geskape is. Dat ek kosbaar is te midde van al die storms wat hoog teen die lewensboot vasslaan.
Jy is jou eie hawemeester. Kies elke dag die boot wat eerste moet inkom en aflaai. Die res kan wag totdat dit vir jou as vrou en as ma geleë is om te hanteer. Soms vinniger as wat ons dink, maar nie sonder die vaste vertroue dat ek as vrou, uniek geskape is deur God, ook my eie stempel kan afdruk nie.