Kortpouse is nog nie eens verby nie, en die kinders baklei reeds – of so klink dit op ’n afstand. Die speelveld ter sprake is die regering van nasionale eenheid waarin blinkpoleerde skoenpunte reeds nerfaf is van klippe opskop.
Verlede week is pres. Cyril Ramaphosa weer as president van Suid-Afrika ingehuldig.
Hy het die bisarre Phala-Phala-wildsplaasdebakel op sy boekie wat gereeld teen sy kop gegooi word. Voordat vingers oor die sleutelbord vlieg vir ’n verdere mening hieroor, dink aan Joe Biden en Donald Trump. Dié twee presidentskandidate van Amerika wil ’n mens laat uitroep: Is dit regtig die beste kandidate uit die nagenoeg 342 miljoen Amerikaners?
Dan rol die rekenaarmuis verby Johanna van Eeden, stemme-redakteur van Netwerk24, se meningstuk “Kan ons nou ophou om Trump te beledig?”
Sy haal kwetsende benamings aan vir Trump en Biden; selfs na oudpres. Jacob Zuma en Julius Malema. Sy vra: “Hoe dra ’n persoonlike aanval op ’n politikus by tot die politieke debat?” en ook “Die wedersydse etikettering van mense – politici of hul ondersteuners – lei tot ’n vereenvoudiging van wat eintlik ’n baie komplekse politieke landskap is, plaaslik en internasionaal.” Sy sê dit is asof vrees vir “die ander” dikwels besweer word deur beledigings.
Net omdat jy die reg het om te sê wat jy wil, en omdat jy kan, beteken dit nie jy móét nie.
“Want uiteindelik sê dit meer van jouself as van die onderwerp van jou belediging.”
Laat ons poog om vrees vir “die ander” te oorwin, sodat almal na langpouse kan uitsien.