Wie laaste kom, sal eerste wees. Dit was beslis die geval vir Elize Rokebrand van Klerksdorp wat op Donderdag 5 Desember die laaste een was wat die oopsluitknoppie op die sleutel van ’n splinternuwe Renault Kwid Life gedruk het.
Elize was een van vyf finaliste in Engo Vrystaat se Projek van Hoop wat na Bloemfontein genooi is vir die trekking van die wenner van die Renault Kwid Life ter waarde van R196 999.
Die vyf finaliste – James Mosea en Jackie Henning van Bloemfontein, Jean du Plessis van Welkom en Ina Hennop en Elize van Klerksdorp – het Donderdag die geleentheid gekry om eers ’n nommer te trek waarvolgens die orde bepaal is waarop hulle die sleutels moes trek.
Hulle moes daarna een-vir-een die knoppie druk om te sien watter sleutel die Renault Kwid onder ’n lap in die vertoonlokaal, sou oopsluit.
Vir die eerste vier was daar geen geluk nie, en toe Elize haar knoppie druk, het sy ook gedink daar gebeur niks. Onder luide aanmoediging het sy die knoppie weer gedruk en sowaar – sy was beslis die wenner.
Elize, wat in Klerksdorp by ’n spyseniersonderneming Tasha’s Lunches and Dinners werk, sê haar motor is al drie jaar stukkend en sy maak staat op ander om vir haar saamrygeleenthede aan te bied.
Selfs om in Bloemfontein te kom, moes sy ’n geleentheid kry.
Haargeluk hetin ’n oogwink verander toe sy Donderdag die knoppie druk en die Renault Kwid oopsluit.
“Ek gaan dadelik met my nuwe motor huis toe ry,” het sy opgewonde gesê.
Elize sê hulle doen die spyseniering by baie gesellighede waar Engo se Projek van Hoop-kaartjies teen R30 elk verkoop is.
“Ek het by elke geleentheid ’n kaartjie gekoop.”
Haar kaartjie was een uit 19 365 R30-kaartjies wat sedert Februarie oor die Vrystaat heen verkoop is. Dit is meer as die hoeveelheid kaartjies wat by die vorige Projek van Hoop verkoop is. Van hierdie getal kaartjies, is 1 298 aanlyn verkoop. Vanjaar het 56 van Engo se programme aan die projek deelgeneem en sal nou direk deur dié projek bevoordeel word. Uiteindelik is 4 789 kaartjies in Bloemfontein by gesellighede, markte en by Engo se hoofkantoor verkoop, 3 230 in Welkom en 1 726 kaartjies is in Senekal verkoop.
Engo het 67 verskillende sentrums, huise en kantore regoor die Vrystaat wat by die projek baat vind. Kinders, bejaardes, gesinne, behoeftiges in gemeenskappe oor die Vrystaat heen, mense met gestremdhede, siek mense in hospitale en mense wat graag kinders wil aanneem of laat aanneem, trek voordeel uit die spesiale projek.
Die Renault Kwid Life spog met
- kragstuur;
- lugreëling;
- sentrale sluitstelsel, voor en agter en is spoed-sensitief – met ander woorde, sluit outomaties wanneer wegtrek;
- elektriese vensters voor;
- reisrekenaar;
- radio met Bluetooth en USB;
- parkeersensors;
- ABS-remme met elektroniese remverspreiding;
- LED dagtyd-liggies;
- ongeveer 19 km/liter;
- twee jaar of 30 000 km-diensplan;
- 5 jaar of 150 000 km waarborg met padbystand;
- vyfspoed-ratkas; en
- 1 Liter, drie silinder engin.
Besoek Engo se webblad by engo.co.za.