Een van Kroonstad se oudste inwoners, tannie Anna Serfontein (102), is op 21 Mei oorlede.
“My skoonma het ’n rukkie met haar gesondheid gesukkel ná ’n rugbesering en het nooit weer 100% herstel nie,” sê Maryna Serfontein, haar skoondogter van Kroonstad.
Tannie Anna was die oudste lid van die Vrouelandbou-unie (VLU) se Kroonstad-tak en was tot met haar afsterwe ’n lid. In haar tyd as aktiewe lid het sy talle pryse en eerbewyse vir haar naald-, brei- en kwiltwerk verower.
Op 96 jaar oud het sy haar laaste kwilt gemaak, en sy sou seker met dié tydverdryf aangehou het as dit nie vir haar verswakte sig was nie.
Haar kinders, kleinkinders en agterkleinkinders is almal met haar handwerk bederf.
Sy het op die plaas Welgemoed in die Tweeling-distrik grootgeword en het haar skoolloopbaan aan die Swartwater-plaasskool begin en aan die Laerskool Tweeling voltooi.
Sy het aan die Hoërskool Voortrekker in Bethlehem matrikuleer, wat onlangs ook op die sosiale media hulde aan sy langslewende oudleerling gebring het.
Ná skool het sy haar as onderwyser aan die destydse onderwyskollege in Bloemfontein bekwaam.
By ’n plaasskool in die distrik van Reitz en Petrus Steyn het sy haar loopbaan as onderwyser begin. Sy het haar man ontmoet, Jan Lodewyk Serfontein, wat 19 jaar ouer as sy was. Hulle is kort daarna, in 1944, getroud.
Hulle het hulself op die plaas Serfontein in die Koppies-distrik gevestig, waar hulle jare lank geboer het – tot in 1986 met hul aftrede.
Uit die huwelik is twee kinders gebore: hul dogter, Bets Huyser (77), en seun, Serf Serfontein (72).
Tannie Anna word as ’n knap, handige en spitsvondige vrou beskryf, wat altyd die positiewe in die lewe raakgesien het.
Haar gunsteling-sêding was: “Hou op kerm, dit maak jou oud.”
Haar familie sal haar onthou vir haar soms komiese sêgoed en dat sy nie geskroom het om ’n saak reguit aan te spreek nie.
Sy word deur haar dogter, seun, skoondogter Maryna, vier kleinkinders en sewe agterkleinkinders oorleef.
Tannie Anna se gedenkdiens is Sondag by die Arboretum-tehuis vir bejaardes, waar sy die afgelope agt jaar woonagtig was, gehou.