’n Oudinwoner van Koppies het onlangs sy 90ste verjaardag gevier.
Louis Potgieter het dié spesiale gebeurtenis op 14 Mei in Naboomspruit op ’n geselligheid saam met sy geliefdes gevier. Hy woon sedert 2019 in die Naboom-tuiste vir bejaardes.
Louis sê dit is net genade van bo dat hy hierdie mylpaal kon bereik, en hy is baie dankbaar vir die vol lewe waarmee hy geseën is.
As bekende boer in die Koppies-distrik, het hy sedert 1952 op die plaas De Moed Rooiwal met koring, mielies, sonneblom, soja, grondboontjies, aartappels en pampoen geboer. Hy is die eerste boer van die omgewing wat sojaboontjies aangeplant het.
Daarby het hy met skape en Drakensbergers geboer en na die gesin se wildsplaas, Rietvalei, omgesien.
Louis was betrokke by die bou van die Weltevrede-kerk in Koppies en het in twee kerkrade daar gedien.
Hy was ’n vlieënier van formaat en het sedert 1989 gereeld vir die Staatspresident-trofee gevlieg. Hy het ’n groot liefde vir Jaguar-motors, asook John Deere-implemente en trekkers.
As een van die lede van die eerste Sampi-oesdag, wat nou as Nampo Oesdag bekend staan, het hy ’n groot bydrae gelewer tot die sukses van die jaarlikse landbouskou.
Op 64-jarige ouderdom het Louis begin om saam met Francois Rossouw van RSG 4 x 4-toere mee te maak.
Hulle het nagenoeg 55 van die toere saam met groepe gedoen.
Louis en sy vrou, Ria, het graag rolbal gespeel en het in die komitee van die Koppies-rolbalklub gedien.
Ria is in 2018 in die ouderdom van 81 oorlede.
Die egpaar het vier dogters: Liretha Appelgryn, Albe Sauer, Magdel van Sandwyk en Louise Boden.
Louis het ook 20 kleinkinders (aangetroudes ingesluit) en sewe agterkleinkinders – en die agste een is op pad.