VKB se meganisasie-afdeling het in 1978 ontstaan. Met inagneming van die stygende kapitaalkoste van trekkers, stropers, vragmotors, landboumasjinerie en implemente, asook die wesenlike bydrae wat die gebruik van dié goedere tot produksiekoste lewer, het VKB op 1 Maart van daardie jaar maatreëls getref om gespesialiseerde aandag aan produsente se behoeftes te skenk.
Reeds met die aanvanklike stigting van VKB as landboukoöperasie was die hoofdoelwit om produkte en dienste teen bekostigbare pryse te verskaf ten einde om die insetkoste so laag moontlik vir produsente te hou. Vandag staan VKB as landboumaatskappy sterker as vantevore, en dié doelwit loop soos ’n goue draad deur VKB se geskiedenis.
Produsente in die bedieningsgebied steun op VKB-meganisasie vir ’n wye reeks produkte en implemente van bekende handelsname soos: Case, Case Construction, Falcon, Rovic & Leers, AgriCAD, Jupidex, Feeler Africa, BPI, SEM, TEU, Dieci, Diamond Implements, Boki, Staalmeester, Erdvark, Precision Farming, Northmec Implements, VitaMech, MacDon, Tomcat Chippers, Ripper Tillage, Hardi, Equalizer en Radium.
VKB se omvattende reeks dienste word gerugsteun deur onder meer werkswinkels, onderdele, heelgoedere, presisie, bande en die transmissie-afdeling.
“Ons is absoluut daarop gefokus om in ons produsente se behoeftes te voorsien en saam met hulle te vernuwe namate boerderybehoeftes verander,” sê Nico van der Walt, uitvoerende hoof van VKB-meganisasie.
Die doel van VKB is om lewens te verryk deur volhoubare vooruitgang te inspireer en te ondersteun. Die sukses lê in VKB se waardes, naamlik “hungry, humble, bold, smart”, asook in spanwerk.
“Ons bied ’n eenstop-winkel vir produsente, waar hulle al die heelgoedere kan bekom wat in die mark beskikbaar is en wat deur hoogs gespesialiseerde werkswinkels ondersteun word, met diensvoertuie wat toegerus is om professionele dienste op plase te kan lewer.
“Ons onderdele-afdelings word ook kundig bedryf, en ons bied ’n presisie-afdeling waar alle toerusting vir die produsente gemoniteer word.”
Omdat meganisasie so ’n gespesialiseerde bedryf is, sê Van der Walt, word groot sorg aan die dag gelê om alle personeel in hul onderskeie velde kundiges te maak.
Opleiding vir personeel is ’n noodsaaklikheid namate produkreekse vernuwe. Kursusse word jaarliks in al die afdelings aangebied om personeel se kennis rakende produkte te verbeter. Personeel kan interne kursusse bywoon vir dié wat ’n behoefte het of persoonlik wil groei.
“Potensiële kandidate vir bestuursposte word drie jaar lank op ’n onderdele-bestuursprogram geplaas. Vir bedryfspuntbestuurders is daar ’n program by tersiêre instellings beskikbaar.
“Die meganisasie-kultuur is ’n sterk dryfkrag van tevrede personeel wat hulself deurlopend verbeter, en daar is verskeie metings wat kwartaaliks plaasvind om te bepaal waar daar behoeftes vir groei is, asook een-tot-een-gesprekke. Ons glo sterk in die filosofie: ‘Better people make better VKB employees’.”
Hierdie afdeling brei uit en verbeter sy aanbod voortdurend. Een voorbeeld hiervan is die beheerkamer wat volgens Van der Walt nou 100% in werking is.
“Ons is baie opgewonde oor die waarde wat dit vir ons produsente gaan toevoeg,” sê hy.