Laat ruimte vir verlosser

In Josua 24:15 lees ons: Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies julle dan vandag wie julle wil dien, óf die gode anderkant die Eufraat-rivier wat julle voorouers gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woo


In Josua 24:15 lees ons: Maar as dit verkeerd is in julle oë om die Here te dien, kies julle dan vandag wie julle wil dien, óf die gode anderkant die Eufraat-rivier wat julle voorouers gedien het, óf die gode van die Amoriete in wie se land julle woon. Maar ek en my huis, ons sal die Here dien.

Dit was reeds laatnag in Campinas, Brasilië, toe Venessa en haar ma die voordeur van hul huis oopsluit.

’n Ent in die pad af hoor hulle die harde musiek en die uitbundige gelag van die jong studente opklink terwyl ’n motor nader kom. Dit is Venessa se vriende wat haar kom oplaai vir ’n aandjie uit in die stad.

Toe die motor stop, sien die twee aan die oë van diegene wat in die motor is dat hulle reeds “ver weg” is.

Tot Venessa se ontsteltenis besluit haar ma om saam met haar tot by die motor te stap.

Vinnig spring Venessa in die motor, terwyl haar ma diep bekommerd na die dronk studente in die motor kyk.

Dit is toe dat haar ma ’n oomblik vorentoe teen die oop venster leun en Venessa se hand druk: “My kind, mag Jesus vanaand saam met jou gaan om jou te beskerm.”

Daar was ’n ongemaklike stilte in die motor.

Om die stilte te verbreek antwoord Venessa vinnig, laggend en sinies: “Wel, soos ma kan sien, is hier nie plek vir ’n muis in die kar nie. As Hy wil saamkom, sal Hy maar agter in die kattebak moet klim.”

Die studente het vertrek.

Daardie nag was hulle in ’n ongeluk. Almal in die motor het gesterf. Dit was net die kattebak van die voertuig wat herkenbaar en sonder skade was.

Toe die polisielede dit ná die ongeluk oopmaak, wag ’n skok op hulle. Daar is ’n krat vol eiers in die bak en geeneen daarvan het in die ongeluk gebreek of eens gekraak nie.

Was Jesus in die kattebak?

Waar is Jesus in jou lewe? Is Jesus die eregas vandag in jou lewe?

  • De Kock is leraar aan die NG kerk Bethlehem-Noord.

You need to be Logged In to leave a comment.