Laat genoeg ruimte vir ander siening

Ons ken almal daardie individue met hul sterk gevormde menings oor elke saak, wat selfs ’n bombastiese aanslag teenoor almal het wat waag om anders te dink as hulle.


Ons ken almal daardie individue met hul sterk gevormde menings oor elke saak, wat selfs ’n bombastiese aanslag teenoor almal het wat waag om anders te dink as hulle.

Hul menings lê soos Tafelberg uitgestrek onwrikbaar en onbetwisbaar. Kom ons wees eerlik met mekaar: soms is opinies soos daardie trap wat jy miskyk, net om dan hard met die grond kennis te maak.

Ja, dit is belangrik om sterk oortuigings te hê, veral in ’n wêreld waar die waarheid meer buigsaam is as ’n sirkus-akrobaat; ons het vaste standpunte nodig.

Sterk menings moet soos ’n goed geboude huis wees; ondersteun deur die stewige fondamente van feite, nie net deur die modderige grond van “want ek sê so” nie.

Ons onthou almal daardie bekende gesegde, en ek sensureer so effens: “Mense wat dink hulle is uiters slim, is nie altyd so slim nie.” Hoe waar is die woorde nie.

Dit bring ons by die deug van beskeidenheid in ons oordele en die bereidwilligheid om te luister.

Deesdae word debat wat gebaseer is op feite en respek vir iemand anders se mening grootliks geïgnoreer. As ’n mens glo dat sy saak en mening reg en sterk is, word geen teenstand of ’n ander mening geduld nie.

Mense kommunikeer nie meer om werklik te probeer verstaan nie; dit het verander in geskree en slegsê, wat dikwels gepaard gaan met aggressie en geweld. Wêreldwyd is dit nou die norm hoe mense verskille oor sensitiewe sake benader en hanteer.

Die vaardigheid om eers te luister, daaroor te dink, en dan ’n antwoord te oorweeg is amper vergete.

Die wêreld sou draagliker wees as ons almal kan erken dat elke storie twee kante het, soos ’n muntstuk. Soms, ’n verrassende derde kant wat ons nie eers oorweeg het nie. Soms lê die waarheid iewers in die middel.

Dus, voordat jy besluit dat jou mening die enigste een is wat saak maak, onthou om die muntstuk om te draai. Luister na die ander kant, kyk onder die klip van jou vooropgestelde idees, en wie weet? Miskien, net miskien, vind jy iets regtig slim daar.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.