’n Hewige haelstorm het verlede week boere in die Oos-Vrystaat, veral dié wat met graangewasse boer, groot skade berokken.
Boere het die magtelose gevoel hierrondom eerstehands beleef toe sneeuwit landerye in die middel van die somer hul verskyning gemaak het.
In die Vrystaat, wat in die somerreënvalstreek geleë is, het dit vanjaar heelwat vroeër as verlede jaar begin reën.
Sedert die aanvang van die nuwe reëntyd het interessante weerpatrone, wat met swaar elektriese storms gepaard gaan, oor die Vrystaat en Noord-Kaap heen voorgekom. Hoewel dié streke vir donderstorms bekend is, is dit vanjaar baie meer dramaties en skouspelagtig.
Dié verskynsel kan hoofsaaklik aan die La Niña-weerstelsel, wat weswaarts oor die land beweeg, toegeskryf word.
Haelstorms kan op enige tydstip van die jaar voorkom en dit is juis die vertikale Cumulonimbus-wolke wat die kele laat toetrek – dié soort wolk laat hael vinnig en hard val.
Terwyl haelkorrels so groot soos tennis- en gholfballe kan wees, en dit voertuie en huise beskadig, het die grootste haelkorrel wat nog aangeteken is ’n allemintige 4,4 kg geweeg. Dié knewel het in Viale, Argentinië, geval.
Die hoop is dat die vreemde en buitengewone weersomstandighede in Suid-Afrika hulle gou sal uitwoed, sodat die negatiewe invloed op die landboubedryf – en skade aan infrastruktuur – beperk word.