Kyk in truspieël, tree die toekoms in

Hoe lui daardie gesegde? Met grysheid kom wysheid. Só dink ek terwyl ek ’n gesprek voer met ’n baie ouer en wyse vriendin.


Hoe lui daardie gesegde? Met grysheid kom wysheid. Só dink ek terwyl ek ’n gesprek voer met ’n baie ouer en wyse vriendin.

Ek geniet altyd haar uitkyk op die lewe en die wyshede wat daarmee gepaardgaan.

“Ons dink baie dieselfde,” sê sy.

Wat nogal vir my ’n pluimpie in die hoed is.

In ons gesprek kom ons tot die slotsom dat ons sal moet aanpas en byhou om nie verlore te raak in die moderne samelewing nie.

Ons gesels oor die chaos waarin ons ons soms bevind, asook die tempo waarteen die lewe galop.

Dan praat ons nie eens van die tegnologie wat ons altyd tien stappe voor is nie.

Ek lag in my binneste toe sy noem dat tegnologie die oorhand gekry het.

“Binnekort sal alles aanlyn geskied. Selfs die banke dwing ons nou om alles aanlyn te doen,” skerts sy.

“Daar is net nie einde nie ons sal moet begin byhou.”

Dat die lewe se ritme in die afgelope vyf jaar drasties verander het, is nie ’n liegstorie nie. Selfs ek sukkel om met die nuutste neigings en tendense by te hou.

Met ’n effe ongeduldige geaardheid is dit moeilik om terug te sit, te fokus en te probeer verstaan hoe dinge nou werk.

Tog is ons dit eens dat ons vir seker in baie interessante tye leef en dat ons heimlik die vreemde en nuwe fases van die lewe geniet.

Tot ’n mate word ons lewe vergemaklik, veral vir die ongeduldiges soos ek.

Ons hoef nie meer in die rye by die bank te gaan staan nie. Ons kan basies alle transaksies op ons slimfoon doen. So ook inkopies – van kos tot klere.

Maar mag ons steeds vasklou aan die kennis en wysheid van die ouer geslag, wat die grondslag van die lewe bly ongeag hoe dinge verander.

Geniet die vooruitgang en wilde galop van die lewe, en behou die wysheid van die grysheid.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.