Kwesbares verdien beskerming

Die familie van wyle Gert Burger van Kroonstad is verlig nadat sy moordenaars Donderdag ’n swaar vonnis opgelê is.


Die familie van wyle Gert Burger van Kroonstad is verlig nadat sy moordenaars Donderdag ’n swaar vonnis opgelê is.

Dit is vir hulle ’n riem onder die hart om te weet dat die Suid-Afrikaanse regstelsel, wat daarvoor bekend geword het dat dit die meeste mense faal, die moordenaars kon laat boet vir hul wreedaardige dade.

’n Familie kan nou berusting vind, en moordenaars is uit die samelewing verwyder.

Dié vonnisoplegging verlede week val saam met die jaarlikse veldtog van 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders, wat vanjaar van 25 November tot 10 Desember duur.

Vanjaar se veldtog beklemtoon die aanspreek van die grondoorsake van geslagsgeweld, die bevordering van positiewe manlikheid, die bevordering van geslagsgelykheid en die skep van ekonomiese geleenthede vir vroue en kinders.

Gesinsgeweld is gewoonlik ’n patroon van herhaalde fisieke, seksuele of emosionele geweld en is nooit toevallig of ’n geïsoleerde voorval nie. Kwesbare groepe sluit in vroue, kinders, bejaardes, mense met gestremdhede en die LGBTQIA+-groep.

Dit bly die samelewing se verantwoordelikheid om die kwesbares te help en te ondersteun. Geweld is oor die algemeen ’n diepgewortelde probleem in Suid-Afrika, wat die samelewing moet probeer bekamp.

Mag die regstelsel toenemend daarin slaag om reg en geregtigheid te laat geskied, en mag die kwesbares op die hande gedra word.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.