Kunswerke bied skeppende genesing
Jacobus Silwer het op 10 Mei ‘n balpuntpen-sketswerksessie in Kroonstad aangebied.

Die sanger, liedjieskrywer, beeldhouer en kunstenaar Jacobus Silwer het ‘n balpuntpen-sketswerksessie in Kroonstad aangebied.

Op 10 Mei het ongeveer 54 mense die werksessie, wat deur die Vrouelandbou-unie (VLU) se Kroonstad-tak gereël is, bygewoon. Dit is by die Afrikaanse Protestantse Kerk (APK) aangebied.

Silwer het die geleentheid begin deur sy lewensverhaal met humoristiese staaltjies te vertel en het besoekers met sy kenmerkende musiek vermaak.

Ná ‘n paar ysbrekeruitdagings is deelnemers aan die sessie vinnig uit hul gemaksone geneem.

Waarnemingsoefeninge teen tyd en drie vinnige sketse van ‘n blaar is gedoen. Silwer het tussen al die aktiwiteite gereeld agter die mikrofoon ingeskuif met sy stories en liedjies as vermaak.

Deelnemers kon met die eerste groot skets die onderwerp kies, terwyl Silwer by die tafels omgegaan het om leiding en advies te gee.

Die laaste uitdaging is ná middagete aangepak. Deelnemers aan die sessie moes verskillende emosies uitbeeld deur middel van merke, kolle, woorde en vorms wat elk gekoppel is aan oorwinnings, nederlae en emosionele gebeure. Daarna moes hulle ‘n boom bo-oor alles teken.

Namate hulle oor elke fout en emosie skets, het dit deel geword van hul ervaringsraamwerk en lewensboom.

Silwer het na die Bybel verwys waarin God sê dat Hy alles ten goede laat meewerk vir dié wat in Hom glo, en dat Jesus Christus ons verwronge, droeë lewensbome kom verander sodat alles op die ou end sin maak.

You need to be Logged In to leave a comment.