Dit is nog net ’n paar dae voordat ons Kersfees vier en ek is seker die meeste van ons lesers is besig met die laaste voorbereidings rondom hul Kersmaal.
Gaan jou ete ’n tradisionele tema hê of gaan jy ons wonderlike Suid-Afrikaanse sonskynweer omarm en ’n meer informele braai tema verkies?
Vir diegene wat so gelukkig is om tydens die vredesdae langs die see te wees sal ’n vars seekostema natuurlik van pas wees. Wat ook al die tema van jou Kerstafel gaan weerspieël, daar gaan genoegsame plekke wees om vars kruie in elke gereg by te werk vir daardie ekstra tikkie spesiale geur en smaak.
Die tradisionele Kers-geregte waarmee ons groot geword het – van skaapboud en hoenderpastei – kan nie sonder tiemie, roosmaryn en salie voorgesit word nie. Maar dit is allermins waar die gebruik op hou, nee elke gereg op jou Kerstafel kan en behoort aangevul te word met wonderlike kruie geskenke.
Hoendervleis se pasmaats is tiemie, pietersielie, basiliekruid, seldery, salie, roosmaryn, oreganum en knoffel.
Gebruik veral die pasmaats in kombinasies in marinades sowel as in die gaarmaak prosesse. Wanneer ’n heel gebraaide hoender voorberei word maak ’n bossie op van twee takkies roosmaryn en twee salie en vier takkies basiliekruid, oreganum en tiemie, plaas dit in die holte van die heel hoender om so die smaak egalig in die gaarmaak proses te versprei. Pasop om nie te veel roosmaryn en salie te gebruik nie, want dit kan sterk deurkom.
Natuurlik moet ons nie van ons knoffel vergeet nie. Met braaigeregte kan die hoender bedruip word met ’n gesmelte bottersous van tiemie, basiliekruid en knoffel wat sal help om die droogheid van die witvleis tee te werk.
Gebruik ook tiemie, pietersielie en basiliekruid in ’n roomsous saam met hoenderborsies.
Skaap- en lamvleis braai benodig roosmaryn en tiemie om weer daardie ekstra geur aan die braai proses te verleen. Ander gewillige pasmaats by ’n skaapboud is natuurlik ook tiemie, basiliekruid, oreganum en knoffel met veral die roomsous wat daarby baat.
Slaaie en visgeregte werk goed saam met vinkel, dille, basiliekruid, koljander en pietersielie. Selfs die blommetjies van die basiliekruid gee spesiale geur aan slaai en bottersouse.
Om ’n effe meer Oosterse geur in die braai proses in te bring maak gebruik van gemmer en vars koljander. Ons slaaitafel met tzatziki moet ’n groot handvol kruisement en ’n bietjie pietersielie en gemmer by hê om dit ’n wenner te maak.
Ons is so geneig om kruie net by soutgeregte te gebruik, maar nageregte vind net soveel baat daarby.
Ontsluit verfrissende smake in gebak, roomyse en ys-poedings met die byvoeg van verskeie kruie. Voorbeelde is om jou vla te geur met basiliekruid of ment, waatlemoen of spanspek sorbet-ys te geur met ment en ’n bietjie roosmaryn en tiemie. Tuisgemaakte roomys kan opgekikker word met fyngekapte kruisement en neute.
Gee ’n ekstra kinkel aan jou sjokolade en gebakte geregte met ment, tiemie en basiliekruid.
Wat ook al die tema van jou Kersmaal gaan wees, daar is plek vir kruie.
’n Geseënde en gesonde Kerstafel aan al ons geliefde lesers.