Rubriek: Kruie van vele nut

Maryna Serfontein, kruiekenner van Kroonstad, nooi lesers om saam met haar op reis te gaan deur die wêreld van kruie en om al die wonderlike (en ongewaardeerde) skatte te ontdek.

Maryna Serfontein

Credit: SYSTEM

Maryna Serfontein, kruiekenner van Kroonstad, nooi lesers om saam met haar op reis te gaan deur die wêreld van kruie en om al die wonderlike (en ongewaardeerde) skatte te ontdek.

Dikwels sal ek die volgende gevra word: Nou wat doen ek met die kruie; waarvoor kan ek dit gebruik en hoe gebruik ek dit?

Die term kruie word gewoonlik gebruik om te verwys na enige plant of verskeie dele van plante wat deur mens of dier gebruik kan word, om etlike redes.

Die gebruik en aanplant van kruie is so oud soos die berge en lank voor die koms van ons moderne mediese wetenskap is kruie gebruik om elke moontlike kwaal en siekte te behandel. Dink aan ons eie boegoe van die Kaap, wat soveel medisinale voordele inhou en oor die eeue as medisyne gebruik is.

Daarbenewens het ons verleer hoe om vars kruie in ons kos te gebruik.

As jy eers begin om met vars kruie te kook, lei dit onvermydelik na die behoefte om ’n kruietuin aan te lê. ’n Mens hoef nie dadelik ’n professionele kruietuin te vestig nie – selfs die aanplant van net een kruieplantjie gee genoeg rede om opgewonde te raak oor die gebruike en kweek van kruie.

Op die vraag waarvoor ’n mens kruie kan gebruik, gee ek die volgende opsomming:

  • Kos: Geur en die verskaffing van verskeie smaakgewende eienskappe by kosbereiding.
  • Drankies: Die maak van verfrissende ystee of heerlike warm tee in die winter.
  • Aromatiese gebruik: Die maak van skoonheidsprodukte en welriekende olies en parfuum.
  • Mediese gebruik: Medisinale en gesondheidsvoordele wat weer hoog mode is.
  • Plaagbeheer: Die maak van natuurlike plaagbeheerprodukte en spuitmiddels.

Ek gaan oor die volgende paar maande elkeen van hierdie gebruike breedvoerig bespreek en baie wenke rondom kruietuine gee. Vir my lê die genot en opwinding daarin om kruie wat ek self gekweek het daagliks te gebruik, maar ook om daarvan aan vriende uit te deel en daardeur hul aan die geure en smake van my handewerk voor te stel.

Die Vrystaatse klimaat beperk ons kruieliefhebbers, sodat ons nie dwarsdeur die jaar alle soorte kruie kan aanplant nie, maar die somerweer gee ons oorgenoeg tyd om die ryp-gevoelige kruie vroegtydig te plant en te vestig, vars te gebruik en later te droog om dit regdeur die winter te kan gebruik.

Hiermee groet ek dan eers tot ons volgende kruie-kuier.

You need to be Logged In to leave a comment.