Kruie maak vir gogga bang

Die somer hou soveel voordele in, veral dat ons saans lekker saam met vriende en familie buite kan sit en kuier, of sommer net tyd in die natuur kan deurbring en besig kan bly met buitemuurse aktiwiteite en sport, meen kruiekenner van Maryna Serfontein.

Maryna Serfontein

Credit: SYSTEM

Die somer hou soveel voordele in, veral dat ons saans lekker saam met vriende en familie buite kan sit en kuier, of sommer net tyd in die natuur kan deurbring en besig kan bly met buitemuurse aktiwiteite en sport, meen kruiekenner van Kroonstad Maryna Serfontein. Tog is dit ’n werklikheid dat muskiete en ander insekte ook graag wil saam kuier. Serfontein deel haar kundigheid met VrystaatKroon se lesers.

Gelukkig is daar heelwat natuurlike maniere om vir ’n wyle van insekte ontslae te raak, sonder chemiese oorlogvoering.

Om natuurlike kruie en huishoudelike produkte te gebruik is beter vir die omgewing en gesonder vir mens en dier.

Die reuk en geur van verskeie plante kan insekte verjaag en hul bevolking in die tuin in toom hou. Muskiete en miere verpes byvoorbeeld die reuk van Afrikanertjies (“marigolds”), sitronella, laventel, basiliekruid, kruisement, sitroengras, roosmaryn, kaneel, paprika en asyn.

Daar is nog vele ander, maar hierdie kruie is altyd beskikbaar en maklik bekombaar.

Nog ’n voordeel van die gebruik van blomme en kruie is die kalmerende uitwerking daarvan op die mens. Om dus die bogenoemde plante in die tuin en veral naby of onder die kamervensters te plant sal insekte verjaag én die huisinwoners laat ontspan.

Hier volg ’n paar kruie-resepte om insekte op ’n natuurlike manier te verdring.

Tuisgemaakte spuitstof
  • Meng ’n koppie water en ’n koppie asyn saam met ’n teelepel skottelgoedseep. Gooi daarby ’n mengsel van knoffel en laventel-aftreksel.

Jy kan ook ’n sitroengras-aftreksel afsonderlik of saam met knoffel gebruik.

Deur kruie saam met die asyn te meng word die effektiwiteit van die spuitstof verhoog.

Gooi dit in ’n spuitbottel en spuit die mengsel buite aan mure, vensterbanke, tafelblaaie, stoele en op gras waar ontspan word.

  • Nog ’n afweermiddel wat vinnig tuisgemaak kan word, word gemeng deur ’n koppie asyn by ’n koppie water te roer waarin 20 ml vlugtige olie soos dié van laventel, kruisement, sitronella, roosmaryn of tiemie is. Eksperimenteer gerus en kyk watter olies werk die beste in jou omgewing.
  • ’n Rookafweermiddel kan gebruik word. Neem ’n handvol roosmaryntakkies, ’n paar takkies kruisement, tiemie, salie en ’n paar lemoen- of pomelo-skille, as jy het.

Draai alles saam toe in foelie, steek ’n paar gaatjies in die foelie en plaas dit direk op kole. Die rook sal alle ongewensde insekte vir ’n uur of twee verwilder.

  • Kerse van sitronella- of laventelolie is ’n goeie opsie. Meng warm kerswas met die olie om kers te vorm. Steek dit aan wanneer daar buite ontspan word.
  • Lyfroom of olyfolie gemeng met 15 druppels laventel-, kruisement- of sitronella-olie om aan die lyf te smeer is ook ’n wonderlike afweermiddel.

Onthou dat al die natuurlike spuitmiddels hoofsaaklik insekte by ’n kuierruimte weg hou, eerder as om hulle dood te maak. Insekte kan dalk vrek as hulle raak gespuit word, maar natuurlike produkte het nie ’n langdurige uitwerking nie.

  • Volgende keer deel Serfontein haar wenke oor spesifiek miere en hoe om hulle te verwilder.
Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.