Rubriek: Kruie-koninkryk vol verassings vir teetyd

Net toe ons die winter wou groet, kom herinner ou ysbeertjie ons daaraan dat hy lank nog nie gaan slaap het nie, skryf Maryna Serfontein, kruiekenner van Kroonstad.


Net toe ons die winter wou groet, kom herinner ou ysbeertjie ons daaraan dat hy lank nog nie gaan slaap het nie, skryf Maryna Serfontein, kruiekenner van Kroonstad.

Die goeie nuus is sy koue vingers word gaandeweg korter, namate ons dae stadig langer word – en daarmee saam verwelkom ons ’n nuwe seisoen van lewe: Lente.

Verjaag die ou wêreld se bekommernisse, siektes, koue en griep met ’n heerlike koppie vars, gesonde tee.

Die kuns van tee drink is ’n baie ou tradisie wat veral in die Ooste met baie sosiale en gesondheidsrituele gepaardgaan.

Streng gesproke kan ons net van ’n warm drankie as tee praat as dit berei is van die blare van Camellia sinensis; alle ander aftreksels of tee is in der waarheid ’n “tisane”. Hierdie Franse woord verwys na alle drankies wat berei word deur die trek van, of ’n aftreksel te maak van, kookwater met enige kruie, speserye of verskeie dele van plante soos blomme, blare, saad of wortels.

Berei kruietee (tisane) deur jou mengsel kruie of speserye 3 tot 5 minute lank te laat rus, en trek in die kookwater – onthou om altyd ’n deksel of piering bo-op jou koppie te plaas. Indien jy jou tisane in ’n teepot berei, is daar reeds ’n deksel om die geure binne te hou.

Ons eie rooibostee is dus in der waarheid nie ’n tee nie, maar eerder ’n koppie tisane.

Kruietees is kaffeïen-vry. Dit kan deur die hele jaar geniet word en in die somer verkoel word vir ’n verfrissende drankie. Die gesonde eienskappe van kruietees is legio, en daarby is dit ook baie bekostigbaar as jy tuisgekweekte kruie gebruik.

Vandag is daar baie soorte kruietees, reeds voorberei in teesakkies en beskikbaar by supermarkte, maar die pluk van jou eie vars kruie maak die lekkerste tee om te drink.

Eksperimenteer gerus met smake waarvan jy hou, en jy kan selfs vrugtesappe vir ekstra geur byvoeg. Dink veral aan ’n kruietee wat met appelsap en kaneel voorberei word.

Kruietee kan enige tyd van die dag of aand geniet word. Dit is veral ’n strelende koppie kamille- of laventel-tee wat jou help om voor slapenstyd te ontspan, en dit is boonop goed vir die spysvertering.

Resep vir ment-en-vinkel-tisane
  • kwart koppie gekneusde mentblare (enige ment met ’n sterk geur);
  • ’n teelepel vinkelsaad;
  • ’n teelepel anys of karwysaad; en
  • ’n stukkie lemoenskil.

Gooi twee koppies kookwater oor en laat trek ongeveer 5 min lank. Gooi die tee stadig af en geniet dit saans of ná ’n groot maaltyd. Dit verlig spysverteringsprobleme.

Volgende keer gesels ons hoe om skoonmaakmiddels met kruie voor te berei.

You need to be Logged In to leave a comment.