Kruie kikker die alledaagse op

Wanneer Kroonstadters en kwekerye in die omgewing die naam Maryna Serfontein hoor, is dit vir hulle sinoniem met plante en kruie.


Wanneer Kroonstadters en kwekerye in die omgewing die naam Maryna Serfontein hoor, is dit vir hulle sinoniem met plante en kruie.

Serfontein, ’n kruiekenner wat sedert 1982 op haar gesin se plaas in die Koppies-distrik heeltyds ’n kwekery bedryf, sê ’n liefde vir plante en kruie is op ’n baie jong ouderdom deur haar ouers by haar gekweek.

“My pa, Nick Swart, was ’n suiker- en groenteboer en my ma, Babs Swart, se liefde vir plante kweek was aansteeklik. Sy het altyd steggies gemaak en met blomme en in die tuin gewerk.”

Dit was egter Serfontein se nuuskierigheid nadat sy ’n boek oor die gebruike van kruie gelees het, wat haar aangespoor het om juis kruie te kweek en gebruik.

Haar pad het ook met dié van die welbekende kruiekenner Margaret Roberts gekruis. Roberts, wat in 2017 oorlede is, het Suid-Afrikaners aan kruie in die kombuis, huis en medisynekabinet voorgestel.

Serfontein sê sy het baie by Roberts gaan kers opsteek en ook heerlik saam met haar gekuier.

Sy het ook baie geleer by die Australiese Herb Herbert, wat op die bemarking en alledaagse gebruik van kruie toegespits is.

Vandag bied sy graag kruiewerksessies aan om mense meer blootstelling aan die gebruik van kruie te gee en om die gerieflike gebruik van kruie in kos te bevorder.

Haar eksperimente met kruie in die kombuis het gestalte gegee aan die Art Café in Kroonstad, waarvan sy mede-eienaar is en waar al die kos met vars kruie voorberei word.

’n Liefde vir kruie is deel van Serfontein se wese en sy gebruik dit daagliks in haar warm en koue drankies, asook etes.

“Kruie gee geur en smaak aan kos, met groot gesondheidswaarde. Die medisinale gebruik van kruie is veilig vir mens en dier, en kruie word in skoonheidsprodukte en vir insekbeheer gebruik.”

Serfontein sê om kruie te kweek is eintlik baie maklik as jy ’n paar basiese riglyne nakom, soos om byvoorbeeld op te let na die son- en skadu-behoefte van ’n kruisoort, die hoeveelheid water en goeie grond.

Sy stel voor dat mense kruie kweek wat hulle wel sal gebruik en dat die kruie op ’n gereelde basis gepluk word, anders skiet die meeste kruie saad.

“Dit is belangrik om die kruietuin of planthouers naby die kombuis aan te lê sodat jy nie vergeet om dit in die kos te gebruik nie. As jou gesin nog nooit vars kruie in geregte gebruik het nie, stel dit stelselmatig bekend. Gesels gereeld met jou kruie, hulle hou baie van die troeteling en aandag.”

  • Hou VrystaatKroondop vir die rubriek Kruie met Maryna, vir wenke oor hoe om kruie in te span, asook om meer oor die uniekheid daarvan te leer.

You need to be Logged In to leave a comment.