Kroonstadter slaan silwer los

’n Liggaamsbouer van Kroonstad het die koppe laat draai op die Muscle Mulisha Grand Prix en Muscle Mulisha kwalifiserende ronde, aangebied onder die vaandel van die National Physique Committee (NPC) in Suid-Afrika.


’n Liggaamsbouer van Kroonstad het die koppe laat draai op die Muscle Mulisha Grand Prix en Muscle Mulisha kwalifiserende ronde, aangebied onder die vaandel van die National Physique Committee (NPC) in Suid-Afrika.

Chantel du Plessis (40) het in bogenoemde kompetisie op 27 en 28 Mei in Randburg teen 30 ander vroue meegeding en silwermedaljes in die bikini- ope D-afdeling en bikini-afdeling vir deelnemers ouer as 35 jaar verwerf.

Du Plessis het weens mediese uitdagings in 2017 aan dié sportsoort begin deelneem, en ná haar eerste kompetisie was die koeël deur die kerk. Sy oefen die afgelope vyf jaar by die Tribal Fitness-gimnasium in Kroonstad en is pligsgetrou en gemotiveerd in haar oefenroetine.

Du Plessis het 18 weke voor die kompetisie met voorbereiding in haar oefenprogram begin. Sy het haar dieet aangepas namate haar kompetisielyf ontwikkel het.

“Die kompetisie was ’n ongelooflike ervaring – veral saam met my nuwe afrigter, Craig Brown, omdat ons ’n ander benadering ter voorbereiding gevolg het,” sê Du Plessis.

“Boonop was dit ’n strawwe kompetisie. Die deelnemers was almal van hoogstaande gehalte en dit was ’n voorreg om teen hulle mee te ding.”

Sy oefen nou om moontlik in Desember weer aan ’n NPC-kompetisie deel te neem.

Du Plessis sê sy ontmoet op elke kompetisie nuwe deelnemers en het al goeie vriende gemaak.

Sy vind dit interessant om te sien hoe die verskillende deelnemers hulle voorberei om in bepaalde afdelings mee te ding en dat daar oor die algemeen ’n goeie atmosfeer van samesyn op die kompetisies heers.

“Ek geniet dit veral om in Gauteng aan liggaamsboukompetisies deel te neem, want ná die tyd kan ek myself met lekker doughnutsvan Krispy Kremebederf.”

You need to be Logged In to leave a comment.