Kroonstadter se TV-drome verwesenlik

Die 19-jarige Koos Cronjé van Kroonstad se droom om in die rolprentbedryf te werk is bewaarheid. Boonop sal hy deel wees van die produksiespan wat die KIA Makietie, vir die Kwêla Dorp van die Jaar-feestelikheid, einde Oktober in Kroonstad opneem.


Die 19-jarige Koos Cronjé van Kroonstad se droom om in die rolprentbedryf te werk is bewaarheid. Boonop sal hy deel wees van die produksiespan wat die KIA Makietie, vir die Kwêla Dorp van die Jaar-feestelikheid, einde Oktober in Kroonstad opneem.

Cronjé, wat verlede jaar aan die voormalige Hoërskool Kroonstad (Blouskool) gematrikuleer het, volg ’n internskap by Homebrew Films, waar hy opleiding as kameraman en vloerbestuurder ontvang.

Hy werk op verskeie televisiestelle, soos dié van die joernaalprogram Kwêla op kykNET.

“Dit was nog altyd my droom om in die rolprentbedryf te werk, maar ek kon nie ’n beurs kry om in dié rigting te studeer nie.

“Verlede September tydens my rekordeksamen het ek so tussen my studies na Afrikaanse-rolprente gekyk en besluit om van die vervaardigers te kontak om vir ’n internskap aansoek te doen.”

Hy het e-posse na ’n paar produksiehuise aangestuur, maar het geen terugvoering ontvang nie. Dit was toe wat hy besluit het om vir Karen Meiring, voormalige hoof van kykNET, vir raad en advies te kontak. Cronjé kon Meiring telefonies opspoor.

Sy het na sy storie geluister en hom gevra om die vervaardigers van Homebrew Films te kontak. Daarna was die spreekwoordelike koeël deur die kerk, en hy het in Februarie vanjaar sy internskap by Homebrew Films in Kaapstad, begin.

“Ek leer ongelooflik baie en is so dankbaar vir die wonderlike geleentheid. Elke dag leer ek iets nuuts, en ek het al kamerawerk, beligting, klank, regie en redigering op stel gedoen.”

Buiten dat hy baie leer, is hy ook gaande oor al die akteurs en bemanning op stel wat hy ontmoet en wat hom touwys maak.

Benewens die stel van Kwêla, het hy ook onder meer al op dié van Bravo, Suidooster, Magda Louw (’n televisiereeks wat begin 2023 uitgesaai sal word), Kyk wie praat (Seisoen 2), Koortjies met Jonathan Rubain, Roer (ook ’n nuwe program), asook kykNET se Storiefilms soos Sak en Pak en Grootste Treffers.

Cronjé was al in die geselskap van bekendes soos Tobie Cronjé, Dawid Minnaar, Antoinette Louw, Hannes van Wyk ,Chris Van Niekerk, Susanne Beyers, Deon Lotz, Morné Visser, Corné Crous, June van Merch, Trix Vivier, Tracey Lange en vele meer.

Cronje sê hy geniet die internskap, is dankbaar vir die manier hoe hy in die bedryf beland het en hy verkies dit bo voltydse studies.

Die jong man is ook ’n uitstekende trommespeler, wat van jongs af dié instrument bemeester het.

Hoewel hy nou nie baie tyd kry vir musiek maak nie, speel hy soms nog op tromme wat op stel is vir ontspanning.

You need to be Logged In to leave a comment.