Die opwinding in Kroonstad is besig om op te bou vir die tweede Ignite and Revive-familiefees, waarvoor die beplanning reeds aan die gang is.
Stof die feesskoene af – van 1 tot 3 September word daar weer behoorlik feesgevier.
“Ons is opgewonde om die tweede Ignite and Revive-familiefees aan te bied, en ons is reeds volstoom aan die beplan om aan feesgangers ’n fees van hoogstaande gehalte te bied,” sê André van Pletzen, organiseerder en voorsitter van Ignite and Revive.
Die fees sal vanjaar by die North High School, beter bekend as die ou Rooiskool se terrein, plaasvind.
Hope vermaak wag op feesgangers, met bekendes soos Duane & Okes, Carmen Basson, Jaco Bezuidenhout, Ricus Nel, Juanita du Plessis, Robbie Wessels, Armand Hofmeyr, Andriette Norman, Jo Black, Droomsindroom en Onbeskaamd wat sal optree.
Soos verlede jaar kan besoekers uitsien na die landbou-uitstalling, teetuin, vroue- en dekormark, kuiertuin, mikrobier, jenewer-tent, verskeie buitelugstalletjies, kosstalletjies, kameelritte en kindervermaak.
Kaartjies sal by onder meer Pick n Pay Panorama, The Interior Shop en Sernick Butchery and Deli te koop wees.
Die organiseerders bedank borge, organisasies en ondernemings wat hande gevat het vir hul betrokkenheid om die fees ’n hoogtepunt op die sosiale kalender te maak.
Vir inligting of om ’n stalletjie te bespreek, stuur e-pos na info@ignite&revive.co.za, en hou ook VrystaatKroonvir meer inligting dop.