Medelye stroom steeds in ná die grusame moord op ’n geliefde inwoner van Kroonstad wie se heengaan wyd betreur word.
Johan Botha (78), ook bekend as “Oom Gif” na aanleiding van sy jarelange betrokkenheid in die landboubedryf, se roudiens sal Donderdag (13/07) om 11:00 in die NG kerk Kroonstad-Oos plaasvind. Die diens sal deur ds. Marius Barnard gelei word.
Botha se lyk is op 3 Julie in sy woning in Bormanstraat, Wilgenhof, met diep kopwonde in ’n plas bloed gevind.
Bure het op hom afgekom nadat ’n vriend van Botha hom nie telefonies kon bereik nie.
Die polisie sê dit wil voorkom asof die moordverdagtes die skuifdeur en veiligheidshek oopgebreek het om toegang tot die huis te verkry.
’n Hamer, moontlik die moordwapen, is langs Botha gevind en die huis was deurmekaar.
Botha was jare lank werksaam by Agricura en Rumevite en het baie nou bande met boere in die omgewing gehad. In sy werk het hy gereeld met besproeiingsvliegtuie gevlieg en hy het ’n groot voorliefde vir vlieg ontwikkel.
Buiten ’n passie vir die landboubedryf en vlieg was hy ’n kranige gholfspeler en het hy elke Donderdag by die Kroonstad-gholfklub gespeel.
Voorheen het VrystaatKroonberig dat lede van die Kroonstad-gholfklub erg geskok was oor Botha se dood en dat hulle hom altyd sal onthou as ’n vriendelike man wat graag grappies gemaak het.
“Ons nooi almal na die roudiens, om saam my pa se lewe by die Kroonstad-gholfklub te kom vier, dit was immers een van die plekke waar hy baie gelukkig was,” sê Dries Botha, sy seun.
Dries (43) is ’n akteur en vertolk die rol van James Blignaut, die pastoor Orpa se man, in die kykNET-sepie Suidooster.
Botha se dogter, Jorita (45), is werksaam in Londen en woon reeds die afgelope 22 jaar in die buiteland.
Botha se vrou, Marita, is verlede jaar oorlede.
Die polisie ondersoek ’n saak van moord en versoek enigiemand wat moontlik inligting het rakende die misdaad om Sers. Moakhi Ramokhothoane van die Kroonstad-speurtak te kontak op 084-712-0654, of die Stopmisdaadnommer 08600-10111.