Kroonstad het sommer vroeg in 2023 al ‘n rede om te spog. Carien Zwart van dié Vrystaatse dorp is as semi-finalis in die Mev. Suid-Afrika-kompetisie aangewys.
Carien het op 3 Februarie die nuus ontvang dat sy uit al die inskrywings as een van die 100 topdeelnemers uitgesonder is.
“Ek was so verbaas en het terselfdertyd baie geëerd gevoel oor die geleentheid om Kroonstad, wat verlede jaar as Kwêla se dorp van die jaar aangewys is, te verteenwoordig. Dit is absoluut vir my ‘n voorreg om die dorp se naam verder uit te dra en hoog te hou,” sê sy.
Carien glo en vertrou dat die kompetisie haar as mens na nuwe hoogtes sal neem en is opgewonde oor die pad vorentoe. Dit is haar visie om vir vroue van Suid-Afrika, oud en jonk, ‘n inspirasie te wees – sy wil graag hoop skep vir elke vrou.
Die organiseerders van die Mev. Suid-Afrika-kompetisie soek na vroue wat belangstelling daarin toon om hulself te vernuwe en so ook ander te bemagtig. Dit is vroue met sterk gesinswaardes en wat passievol daaroor is om ‘n positiewe bydrae in hul gemeenskap te lewer. Wanneer dit by Carien kom, kan daar reeds in al die blokkies langs dié lysie van vereistes ‘n regmerkie getrek word.
Almal wat Carien se visie van vrouwees deel, kan vir haar stem as semi-finalis. Stuur ‘n SMS met haar naam en van, Carien Zwart, na 47587. Ondersteuners kan ook haar profiel op die kompetisie se Facebook-blad like en deel, tot November 2023.