Kroonstad spog met ’n finalis in die Mev. Dowe Suid-Afrika-skoonheidskompetisie (MDSA).
Die 42-jarige An-Marie Meyer, ’n Kroonstadter vir die afgelope 19 jaar, is in Februarie as ’n finalis in die 2023 MDSA aangekondig.
Meyer, oorspronklik van Pietermaritzburg, is nie doof gebore nie en het haar gehoor stelselmatig verloor.
Sy het haar skoolloopbaan aan die Transoranje-skool vir dowes in Pretoria begin en was ook in die De la Bat-skool vir Dowes in Worcester, maar het haar skoolloopbaan in Pretoria voltooi.
Ná skool het sy haar as ’n haarkapper bekwaam, en sy is vandag werksaam by Salon Hairnique in Kroonstad.
Haar vriendin Yolandi Visser het verlede jaar Augustus van die kompetisie gelees en Meyer aangemoedig om saam met haar deel te neem.
“Ons twee het besluit om van die begin af elkeen van ons dowe vriende wat ingeskryf het, deur die hele proses te ondersteun en by te staan.”
Die kompetisie se visie is om Suid-Afrika se dowe gemeenskap te bemagtig.
Die volgende stap in die kompetisie is dat finaliste hulself bemark en by liefdadigheidswerk en individuele geldinsamelingsprojekte betrokke raak.
’n Sekere persentasie van die geldinsameling sal ook aan ’n liefdadigheidsorganisasie van die finalis se keuse gaan.
Finaliste moet stemme werf deur middel van SMS’e.
Om vir Meyer te stem, SMS MDS21 na 47439 teen R 3 per SMS. Daar is ook grootmaat SMS-opsies beskikbaar, byvoorbeeld R 50 vir 50 stemme.
Geld kan ook direk in die MDSA-kompetisie se bankrekening betaal word.
Om die bankbesonderhede te bekom, kontak Meyer by 076-838-3967 of volg die MDSA op die sosiale media. ’n Bewys van betaling moet gestuur word na finance@missdeafsa.co.za, of per WhatsApp-boodskap na 082-326-3050.
Die MDSA se gala-aand, waarop die wenner aangekondig word, sal in September in Kaapstad plaasvind.