Kroonstad-drinkwater laat jou gril

Kroonstad inwoners ervaar ernstige waterprobleme; die VF Plus vra dringend vir oplossing aan die Moqhaka-munisipaliteit se wanbestuur.

Die water in Kroonstad is nie geskik vir menslike gebruik nie.
Die water in Kroonstad is nie geskik vir menslike gebruik nie. Credit: Verskaf

Talle inwoners van Kroonstad in die Moqhaka-plaaslike munisipaliteit (Kroonstad, Steynsrus, Viljoenskroon, Vierfontein) het die VF Plus die afgelope weke genader met klagtes oor ‘n voortslepende waterprobleem.

Die water het ‘n onaangename reuk, is bruin van kleur en duidelik nie geskik vir menslike gebruik nie.

Daar is aanvanklik gehoop dat die probleem net tydelik is, maar dit het nou duidelik geraak dat dit ‘n blywende probleem geraak het.

Moqhaka-munisipaliteit is die waterowerheid verantwoordelik vir Kroonstad se waterdienste.

Die VF Plus het reeds ‘n skrywe met  vrae gerig aan die waarnemende munisipale bestuurder, me. Mamaliso Lizzy Ntsepe, met die versoek om dringende aandag aan die probleem te skenk.

In Januarie vanjaar het die Fezille Dabi-distriksmunisipaliteit, as gesondheidsgesag, watertoetse laat doen en die Moqhaka-munisipaliteit skriftelik gewaarsku dat die watertoetse van drinkwater, wat op 14 Januarie 2025 gedoen is, mikroörganismes bevat wat skadelik kan wees vir inwoners se gesondheid. 

In antwoord op die party se vrae is daar erken dat die nodige chemikalie (chloor) nie in die regte hoeveelhede toegedien is nie omdat hulle nie genoeg daarvan beskikbaar gehad het nie.

Die munisipaliteit het onderneem om die toediening van die middel aan te pas en ook die kwaliteit van die water gereeld te monitor.

Die algemene oorsake van Moqhaka se verswakkende watergehalte is die feit dat byna geen permanente bestuursposte gevul word nie, onnodige politieke inmenging met besluitneming en blote wanbestuur.

Die vermindering van fondse in die begroting vir waterwerke is ʼn verdere uitdaging.

Categorised:

You need to be Logged In to leave a comment.